Deur Benescke Janse van Rensburg

Ná verlede week se stuk dat God belangstel in die detail in ons lewens, het ’n Vers-n-Dag leser Jothea Geldenhuys hierdie getuienis met my gedeel:

Jothea: “In Maart verlede jaar, twee dae voor my 51ste verjaardag, het ek tydens my stiltetyd met God oor my lewe tot op hierdie stadium gesels. Een van die seisoene wat ek in besonder uitgelig het, was toe ek as jong, avontuurlustige student jare vantevore au pair-werk in Nederland gedoen het. Die 2-jarige dogtertjie wat ek destyds opgepas het, is vandag self ’n 30-jarige vrou met haar eie gesin. Deur die loop van jare het ek met die gesin kontak gehou. Tydens my gebed het ek vir die Here gesê dat ek graag vir my twee seuns (14 en 16 in daardie stadium) Nederland sou wou wys. Finansieel was dit egter onmoontlik so dit het by ’n droom gebly.  

“Twee dae later, met my verjaarsdag, ontvang ek ’n WhatsApp-boodskap van die gesin uit Nederland. Buiten vir hulle gelukwensing, het hulle geskryf: ‘Ons wil graag vir jou en jou twee seuns vliegtuigkaartjies koop om in Augustus by ons te gaan kuier!’ Ek was totaal uit die veld geslaan. Dit is presies wat ek die Here twee dae vantevore gevra het!

“Die uitdaging van finansies vir paspoorte, visums en sakgeld het my opgewondenheid vir ’n oomblik oorskadu. Nadat ek die storie die volgende dag met ’n kollega by die werk gedeel het, het sy my herinner dat ek my langdiensbonus van 20 jaar by die maatskappy moes kry – iets waarvan ek totaal vergeet het!

“Van daar het alles in plek geval. Keer op keer het ek in absolute verwondering gestaan oor die genade en goedheid van die Here. In Augustus het ek en my twee seuns op ons avontuur Nederland toe vertrek. God is werklik goed!”

Jothea is reg. God wil sy goedheid aan ons kom wys. Soms wonder ek of dit nie ons ongeloof is wat verhoed dat ons met God oor ons begeertes in ons hart gesels nie. In Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Ook in Matteus 6:31-33 sê Jesus: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”

Wat is dit wat jy vandag na smag? Jou eie huis? ’n Baba? ’n Lewensmaat? Om uit skuld te kom? Om ’n gebroke verhouding te herstel? ’n Nuwe werksgeleentheid? Kom ons neem ’n stap van geloof en gesels met God daaroor. Hy is ’n Pa wat goeie dinge vir sy kinders wil hê. Kom ons vertrou Hom dat Hy ook aan ons sy goedheid en genade op sy tyd sal kom bewys. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my diepste hartsbegeertes ken. Soos Jothea wil ek vandag in geloof met U kom gesels oor (noem die area). Verander asseblief my huidige situasie sodat ek ook oor U goedheid kan getuig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.