Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede lees ek ’n storie raak van Jubilation Magagule, ’n 25-jarige entrepreneur van Bosbokrand. Nadat hy in verlede jaar sy besigheid, Torha Refreshing Water met slegs R500 begin het, het dit só vinnig gegroei dat hy vanjaar as een van die 100 jongmense vir die Suid-Afrikaanse Shining Stars Awards aangewys is. Op die vraag hoe hy dit reggekry het, het Jubilation geantwoord: “Ek het die beginsel gevolg om te gebruik wat ek het om te bekom wat ek nie het nie.” Beginkapitaal was vir Jubilation ’n uitdaging. Hy het die R500 tot sy beskikking gebruik om ’n produkvoorbeeld te ontwikkel. Van hier het hy dit by sy teikenmark getoets. Dít het hom genoeg kapitaal gegee om 30 kaste van 500 mℓ bottels te produseer. Die res is geskiedenis.

Vandag geld hierdie beginsel steeds: Gebruik wat jy het om te bekom wat jy nie het nie. Die voordeel vir ons as gelowiges is dat ons God deel van ons proses kan maak. Hy vul ons immers deur sy Heilige Gees met bonatuurlike wysheid, kreatiwiteit, idees en insig.

Met die bou van die tabernakel lees ons in Eksodus 31:1-3 dat God vir Moses sê: “Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. . . Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. . .” God het Besaleël met sy Heilige Gees gevul in ’n tyd wat die Heilige Gees nog nie vrylik vir die mense beskikbaar was nie. Dít het Besaleël toegerus sodat hy uitsonderlike ontwerpe kon vervaardig.

Ná Jesus se hemelvaart het God ons die geskenk van die Heilige Gees gegee. In Romeine 8:11 lees ons: “Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte.” (Die Bybel vir Almal-vertaling) Deur God se Gees word ons stééds vandag toegerus met bonatuurlike wysheid, kreatiwiteit, vaardigheid en insig.

Gebruik wat jy het om te bekom wat jy nie het nie. Wat is daar wat jy graag wil bekom? ’n Eie besigheid? ’n Beter huwelik? ’n Gesonder leefstyl? Kom ons vra God om ons met sy Heilige Gees toe te rus. Só sal ons baie vinniger ons doelwitte bereik. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U Heilige Gees as geskenk wat U vir ons gegee het. Vul my vandag opnuut met U Gees en lei my (noem die area) wat soms vir my ’n uitdaging is. Help my ook om gehoorsaam te wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

o    Website: www.benescke.co.za    

o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/

o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en