Deur Benescke Janse van Rensburg

God is almagtig, maar Hy is ook betrokke in die detail in ons lewens. Vandag wil ek met jou die storie deel van ’n swembadfilter en ’n drukker:

Swembadfilter: Een van die eerste stories wat ek jare gelede geskryf het, was van Isebel. Sy het in daardie stadium deur ’n geweldige moeilike egskeiding gegaan en swaargekry – finansieel en emosioneel. Die kersie op die koek vir haar was toe hulle swembadfilter breek en sy magteloos moes toekyk hoe die swembad groener en groener word terwyl sy nie geld gehad het om ’n nuwe filter te koop nie. Op ’n dag sit sy depressief langs die swembad en wonder of daar nog enige sin in die lewe is. Haar gebed was: “Here, as U werklik God is, help my asseblief om hierdie swembad uitgesorteer te kry!” Sy het vir niemand van haar gebed of penarie vertel nie. ’n Paar dae later het haar seun aan ’n gholfdag deelgeneem. Hy het tweede geëindig. Sy prys? ’n Swembadfilter!

Drukker: Vroeër die week skryf Craig Rowbotham, ’n Vers-n-Dag leser uit North Devon, Engeland aan my. Hy vertel dat hy met sy eie besigheid van die huis af werk. Met maandeinde in Oktober het sy drukker opgepak! Nadat hy ’n hele middag spandeer het om die drukker te probeer regmaak het hy moed opgegee en aanlyn vir ’n nuwe een begin soek. Die vinnigste aflewering sou ’n week neem en met Engeland wat terugbeweeg na ’n maand van inperking, was hy nie seker wanneer die drukker by hom sou uitkom nie. Hier is sy storie:

In Deuteronomium 8 herinner God die Israeliete dat Hy hulle stap vir stap uit Egipte en deur die woestyn gedra het. Toe hulle honger was, het Hy vir hulle manna gegee. Toe hulle dors was, het Hy vir hulle water gegee. Hy het hulle beskerm en vir hulle voorsien wat hulle ook al benodig het. Vandag nog sorg Hy vir ons. In Psalm 37:4-5 lees ons: “Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Omdat God buite tyd en ruimte bestaan, is Hy in staat om vir ons te voorsien wat ons nodig het. Ons het die keuse om dit aan “toeval” toe te skryf óf om Hom raak te sien. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorlaat. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U toe. Vul my met vrede en versterk my geloof dat ek my oë op U kan hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.