Deur Benescke Janse van Rensburg

Die afgelope paar weke was moeilik vir die Vrystaatse boere. Volgens Agri SA het meer as 100 000ha weiveld in die Boshof, Dealesville, Hertzogville en Hoopstad areas afgebrand. Een van die families, Janes Barnard wie saam met sy pa en broers in die Hoopstad en Boshoff areas boer, kan getuig van die krag van gebed te midde van hierdie verwoesting.

Janes: “Donderdag, tien dae gelede, het een van my broers laatmiddag ’n boodskap op ons familiegroep gesit en gevra dat ons ernstig moet bid. Hulle was desperaat. ’n Sterk wind het gewaai en hulle kon nie die vuur onder beheer kry nie. Alhoewel ek aan die begin van die week gehelp het om die vuur te beveg, moes ek na Kenia uitvlieg. Om in die buiteland te sit het my met ’n gevoel van magteloosheid gevul.

“Al wat ek kon doen was om God se Naam aan te roep en boodskappe te stuur aan almal wat ek ken om te vra dat hulle saam vir die boere in Boshoff moes bid.

“Rondom middernag het die situasie selfs meer desperaat geword. My broers was steeds in die veld en my pa alleen op die plaas om die huis op te pas. Ek het vir Jakkie, ’n vriend van my in Hoopstad, gebel en gevra dat hy asseblief my pa moes gaan bystaan. Jakkie het ander boere bymekaar gekry en hulle is deur na my pa toe. Êrens ná middernag moes ek aan die slaap geval het. Toe ek 05:00 wakker skrik, het ek senuweeagtig my foon opgetel.

“Die fotos wat Jakkie rondom 03:00 daardie oggend gestuur het, het ’n duidelike rooi gloed gewys van die vuur in die donker agter ons jaghuis. Dit was op pad na ons plaas toe. God het egter ingegryp.

“My pa se WhatsApp-boodskap later daardie dag verduidelik wat volgende gebeur het die beste: ‘Ons Vader het vanoggend 03:00 ons gebede verhoor. Die sterk wind wat die hele dag gewaai het, het skielik bedaar en daar het ’n paar druppels reën geval. Ons het gestaan en wag om die vuur te beveg, maar die vuur het net swakker en swakker gebrand en later gevrek. Ons Vader is groot! Baie benoude oomblikke was daar, maar Vader God was by ons.’”

Janes en sy gesin het beleef wat God stééds gebede hoor. In Psalm 50:15 lees ons: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Ook in Jakobus 5:16 staan geskryf: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (1953-hersiening). En in Jesaja 43:2 sê God: “. . . as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”

In ons lewens voel dit soms asof ’n “vuur van verwoesting” duidelik op pad is om ons lewens te verwoes (in ons finansies, huwelik of werkplek). Mag ons weet dat God stééds in beheer is. Net soos Hy die natuur beheer, hou Hy ons lewens in sy hand. Mag ons Hom aanhou vertrou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ons U kan aanroep in ons oomblikke van nood. Vandag wil ek U vra om spesifiek in te gryp in (noem jou situasie). Help my om nie vreesagtig of twyfelagtig te raak nie, maar om my geloof in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: As jy wil saamgesels of ook ’n getuienis wat jy wil deel, doen dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van ons lesers te hoor.