DAG 1: GOD IS STÉÉDS GOD – SELFS IN AFSONDERING

Deur Benescke Janse van Rensburg

Noag was vir ’n jaar lank saam met sy familie in ’n boot vasgekeer. Jona was vir drie dae in ’n walvis se maag opgesluit. Moses het vir 40 jaar lank skape in ’n woestyn opgepas. Paulus was vir ’n lang tyd in die Romeinse tronk opgesluit. En die dissipels was vir tien dae lank saam in die bokamer ná Jesus se Hemelvaart.

Vir elkeen van hierdie mense moes die tyd van afsondering uitdagend gewees het met tye. Was, was dit onwetend ’n seisoen van beskutting en voorbereiding omdat God die toekoms geken het.

2020 was vir ons almal ’n vreemde jaar. ’n Jaar van afsondering en inperking. Hoekom? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat ek in my eie lewe reeds die vrug hiervan kan sien – meer gesinstyd, ’n groter afhanklikheid van God en selfs ’n dieper behoefte om sy hart te leer ken.

Vir seker moes Noag, Jona, Moses, Paulus en die dissipels in die tyd van afsondering vrae gehad het. Dalk is jy ook vandag daar. Hoekom het ’n geliefde aan Covid-19 gesterf? Hoekom moes ek my besigheid se deure sluit? Hoekom het ek my werk verloor? Hoekom het my huwelik misluk?

As ons onsself nie herinner om ons oë op God te hou nie, kan ons maklik hoop verloor. God is egter stééds God – en Hy ken die toekoms. In Jesaja 46:10 lees ons: Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.” Ook herinner Hy ons in Jesaja 41:13 dat ons Hom moet vertrou: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”  

Ná die inperking het Noag uit die ark gestap as die eerste gesin in ’n totaal ander wêreld. Jona het ná die walvis een van die grootste herlewings in ’n voorheen goddelose stad beleef omdat hy bereid was om God se boodskap daar te bring. Moses het vir 40 jaar lank die woestyn soos die palm van sy hand leer ken sodat hy later die Israeliete deur dieselfde wildernis na die beloofde land kon lei. Paulus het ’n groot gedeelte van die Nuwe Testament in die tronk geskryf en die dissipels het in die bokamer beleef hoe hulle vrees en onsekerheid in ’n oomblik weggeneem is toe hulle die Heilige Gees ontvang het.

’n Tyd van afsondering is ’n tyd van beskerming en voorbereiding. Kom ons dank God dat Hy deurentyd saam met ons stap. Hy bly immers stééds God. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U dieselfde is gister, vandag en tot in ewigheid. Vergewe my vir elke keer wat ek toegelaat het dat vrees, bekommernis en ongeloof oor die toekoms my vreugde steel. Lei my asseblief en vul my hart opnuut met geloof. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.