Ewald Schmidt

“… ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Filippense 4:11b-13

Die groot voorreg waarvan Paulus getuig uit sy gevangeneskap in Rome is dit: Jesus is altyd naby ons. Hy sien ons raak, Hy weet wat ons nodig het om met dankbaarheid te kan lewe. Die lewenspad is nie altyd maklik nie. So kan Paulus getuig van moeilike tye in sy lewe. Daar was tye van armoede, waarin hy honger gely het. Maar so was daar ook goeie tye, waarin kos nie ‘n probleem was nie. Paulus sê met hierdie beeld dat die lewenspad vir elke gelowige sy opdraandes en afdraandes het. Daar is voorspoed en teenspoed tye vir elke mens. In goeie tye beleef ons die Here se seën dalk meer konkreet. In moeilike tye leer ons diep lewenslesse, hoe afhanklik ons van die Here is, en hoe Hy steeds bly sorg.

Ons almal het maar soms kommer in ons hart oor ons lewe, en oor ons toekoms. Paulus het in hierdie week se teksverse gesê dat die Here in dit alles by ons is. Wanneer ons in geloof groei, ervaar ons meer en meer die vrede van die Here. Kommer begin wyk.

Daarom, as Paulus oor sy lewe terugkyk, kom hy met hierdie kragtige standpunt: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Met die Here se hulp sal ek in goeie en in slegte tye kan volhard. Ek sal kan doen dit waarvoor die Here my gemaak het. Ek sal die doel van my lewe kan bereik, want Hy gee my krag. Ek is tot soveel meer in staat as wat ek met my twyfel kan dink. Want, soos ons die begin gesê het, Hy het ‘n goeie werk in my begin, wat Hy gaan klaarmaak. Ek is altyd in goeie hande. Onder enige omstandighede. Ek lewe in sy lig, en in sy liefde, met sy hoop.

Gebed: Here, ek kan soms so klein dink oor my lewe, en die potensiaal wat U in my geplaas het. Ek kan soms so wonder of my klein bydrae in hierdie lewe enige verskil maak. Dankie dat U naby is, dat u vrede oor my hart en gedagtes die wag hou. Dankie dat ek tot so baie in staat is, omdat U my krag gee om voluit te lewe. Help my om altyd te onthou wie Ek in U is! Amen

Liewe leser, baie dankie dat jy hierdie maand saam met my deur Filippense gereis het. Ek wens vir jou die laaste vers toe: “Die genade van die Here Jesus Christus sal by jou wees! Amen.”