Ewald Schmidt

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Filippense 4:6-7

Paulus maak dit moeilik vanuit sy tronksel in Rome! Eers sê hy ons moet altyd bly wees, want Jesus is naby. Nou sê hy ons moet oor niks bekommerd wees nie. Ons wil omgekrap raak, tot ons onthou wat Paulus se omstandighede in hierdie tye is. Hy kon enige dag verhoor en tereggestel word. Dit sou my so effens bekommer het! Maar nie vir Paulus nie. Want hy het geweet die Here is naby (vers 5 gister). Omdat ons ons lewenspad saam met die Here stap, weet Hy elke oomblik hoe dit met ons gaan. Ons is nooit buite bereik van Hom nie, Hy is altyd net 'n gebed ver van ons af. Paulus sê weer die woordjie “alles”. Maak in alles julle begeertes aan God bekend. Jy mag oor enige saak enige tyd bid. Ons doen dit deur smeking –- daarmee getuig ons dat ons afhanklik van God is. Ons doen dit met danksegging – ons vertrou die Here weet die beste, en sal gee wat ek nodig het om vandag voluit vir Hom te lewe.

Vers 6 verkondig dit waarna elke mens op soek is. Ons elkeen wil vrede in ons harte en gedagtes hê. Ons wil weet dat ons veilig is, dat ons lewe onder beheer is, ons wil nie die hele tyd bekommerd wees oor die alledaagse, of die toekoms nie. Wanneer ons leer om voortdurend met God in gesprek te wees oor ons lewe, leer ons om ons bekommernis by Hom af te laai. Jesus het mos juis na die wêreld gekom om die Vredevors te wees. Hy het gekom om vrede met God te bring, vrede met my medemens, en vrede in my eie hart. Daardie vrede is groter as wat ek my kan indink – bo my gedagtes. Daardie vrede kom wanneer ek meer bewus word van Jesus se nabyheid elke dag in my lewe. Mag jy dit vandag beleef!

Gebed: Here Jesus, dit is so 'n voorreg om my lewenspad saam met U te stap. Dankie dat U naby is. Dankie dat U weet wat ek nodig het voor ek dit van U vra. Maar dankie dat ek altyd welkom is om te bid, met smeking en met danksegging. Leer my om so op U te vertrou, dat my bekommernis sal wyk. Vul my met u vrede, meer as wat ek kan begryp. Amen