Ewald Schmidt

“Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en van my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.” Filippense 4:2-3

Dit is so kosbaar wanneer Paulus die gewone gelowiges van die eerste eeu by die naam noem. Hulle was nie supersterre nie, net gewone mense wat Jesus liefgehad het, en 'n verskil probeer maak het in hulle gemeente en gemeenskap.

As leraar glimlag ek oor die name van vandag. Daar is niks nuuts onder die son nie, het die Prediker mos gesê. So het gelowiges ook maar van die begin af met mekaar spanning beleef in die kerk. Ons lees van Euodia en Sintige in Filippi. Dit was twee vroue wat vir Jesus baie lief was. Hulle was ook baie lief vir Paulus, en het graag saam met hom gewerk, van die begin van die gemeente af, om die kerk te bou. Hulle name staan in die boek van die lewe, saam met Klemens, en die ander medewerkers s’n, sê Paulus. Maar daar is nog so een probleempie wat uitgesorteer moet word. Hulle is lief vir die Here, die evangelie en die kerk. Maar hulle hou nie van mekaar nie. Hulle persoonlikhede bots. Hulle het verskillende style van dinge doen, Euodia bak 'n koeksister met twee draaie, en Sintige dring aan daarop dat daar drie draaie in 'n Vrouefederasie koeksister moet wees.

Paulus vermaan hulle op die naam. Hulle moet eensgesind word. Wat beteken dit? Hulle moet die groter prentjie van God se koninkryk raaksien. Eensgesindheid in die wêreld, die liefde wat ons vir mekaar het oor alle verskille heen, dit is ons getuienis en dit is baie belangrik. Die koninkryk van God kom voor my fyngevoeligheid. Ons is deur Jesus saamgebind in een Liggaam, om in Jesus se voetspore te volg, met een missie – die wêreld moet hoor dat Hy die Here is. Die Here het ons verskillend gemaak om mekaar aan te vul. Daarom is die “ons” altyd belangriker as die “ek”. In elke gemeente is daar mense wat mekaar verkeerd opvryf. Ter wille van ons Here Jesus se Liggaam, en sy Koninkryk, word ons opgeroep in die Woord om eensgesind te wees. Is daar iemand in jou geloofsgemeenskap wat op jou senuwees werk? Begin bid vir daardie persoon. Bid dat jy ook beter sal begryp waar hy/sy vandaan kom. Dis baie moeiliker om te baklei met iemand wat jy voor bid. Wanneer ons dit regkry, word ons getuienis as Kerk al hoe sterker – ons is mense wat mekaar liefhet. Uitdagend, maar moontlik met die Here se genade!

Gebed: Here, dankie dat elkeen van u kinders uniek is. U het elkeen so gemaak. Leer my dan om ander kinders van die Here te verdra, en te aanvaar vir wie hulle is. Help my om so op te tree dat ek nie vir ander mense 'n struikelblok is nie. Amen