Ewald Schmidt

8…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo.” Filippense 3:8b-9

EK het jare gelede saam met vriende Duin 7 by Walvisbaai uitgeklim, een van die hoogste sandduine in die wêreld. Dit was 'n baie moeilike ervaring! Dit het gevoel of 'n mens twee en 'n half treë terug gly vir elke drie treë wat jy vorentoe gee. Met baie sweet en moeite kom jy uiteindelik bo uit, om die asemrowende uitsig te kan geniet. Wanneer mense self probeer om deur goeie werke vrede met God te verdien, is dit so 'n Duin 7 ervaring. Behalwe hierdie duin is veel, veel hoër, en ons het nooit genoeg tyd om ooit bo uit te kom nie. Dis waarna Paulus verwys, wanneer mense onberispelik probeer om die wet te onderhou, en daardeur vryspraak te verdien. Hy het agtergekom: hy gaan nooit so regkom nie. Daarom, wanneer Paulus al sy prestasies, sy kennis van die Wet, en sy onberispelike ywer vir sy weergawe van God se wil noem, dan skok hy ons. Al hierdie dinge is vir hom deesdae verwerplik – hy gebruik eintlik 'n baie kru woord in Grieks om dit te beskryf. Al ons prestasies, al ons eie pogings, alles wat ons gedink het belangrik is, niks van hierdie dinge kan ons red en vryspreek nie.

Ek dink aan die ou weegskale wat destyds in ons wetenskapklasse op skool was. Paulus sê: aan die een kant van die skaal sit hy sy posisie, prestasie en pogings. Al wat hy aan die ander kant van die skaal wil sit, is Christus as sy enigste bate. Al wat hy wens, is om in Christus te glo. Om oor te gee, en Jesus te volg. Daarin lê ons vryspraak. Jesus is die Here, wat die prys vir ons reeds betaal het aan die kruis. Ons hoef dit nie te verdien nie, Hy het alles gedoen wat nodig is om ons te red. Ons kan net met dankbaarheid ons lewens in sy hande toevertrou. Dit is genade, dit is gratis. Dit is beskikbaar vir elke mens wat na Hom toe kom met ons gebroke lewens. Hy maak ons graag heel, en gee aan ons die ware lewe.

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U ook vir my die volle prys betaal het. U het dit gedoen wat ek nooit self sou regkry nie. U het vrede met God gebring, U het my kom herstel na 'n nuwe lewe saam met U toe. Help my om u vryspraak te vat, en voluit daarin te gaan lewe. Dankie vir u groot genade! Amen