Ewald Schmidt

“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe,  want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2: 12-13

Dit sou baie insiggewend wees om te sien wat elkeen van ons in die lewe kon bereik indien ons ons volle potensiaal ingespan het. Die Here het elke mens geseën met gawes, en Hy gee graag geleenthede, dat ons voluit kan groei en ontwikkel as mens. Dikwels is ons ons eie grootste vyand. Van kleins af dink ons graag verskonings uit hoekom ons nie in staat is om dinge te doen nie. Ons vergelyk onsself so maklik met ander, van baie kleins af. Dan is daar altyd iemand wat mooier, sterker, vinniger as ons is. Ons stop nie daar nie, ons meet onsself teen 'n klomp verskillende mense se beste gawes, en dan voel ons so klein en hulpeloos.

Paulus het in Filippi die gelowiges geleer van die nuwe lewe in Christus. Ons is God se kinders deur geloof. Hy het elkeen van ons duur gekoop, en met sy Heilige Gees vervul. Die gelowiges moes nie vir Paulus gehoorsaam nie, hulle moes leer om Jesus te gehoorsaam. Dit moes hulle doen met die krag van die Heilige Gees. Van die vroegste tye af het mense egter verskonings gesoek waarom iemand anders eerder van Jesus moet vertel, ander moet help, moet dien in die liggaam van Christus. Ons mense doen dit vandag nog steeds. Ons dink daar is iemand anders wat beter as ek my plek in die kerk kan volstaan.

Daarom kom Paulus met hierdie vermaning in vers 13. Dit vee al ons verskonings van die tafel af. Ons word geroep om Jesus se voorbeeld te volg, en te dien soos Hy (gister se teks). Die Here vra niks van ons wat Hy nie eerste vir ons gegee het nie. Daarom: Dis die Here wat ons gewillig maak. Dis Hy wat ons toerus met gawes en sy Gees. Daarom is ons bekwaam vir dit wat die Here van ons vra. Raai wie se skuld is dit as ek onwillig is om die Here te dien? Die lewe is soveel lekkerder wanneer ek die Here vertrou, Hom gehoorsaam, en beskikbaar is om my gawes tot sy eer te gebruik. Dis waarvoor ons gemaak is!

Gebed: Here, ek bely vandag dat ek soms 'n verskoning-koning is. Ek dink so graag verskonings uit hoekom iemand anders beter as ek kan dien in u kerk, en in u wêreld. Here, u Woord sê U maak my gewillig, en bekwaam, om voluit vir U te lewe. Gee my die wysheid en insig om nie langer in u pad te staan nie, maar 'n uitnemende lewe te leef tot u eer. Amen.