Ewald Schmidt

“Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie.”  Filippense 2:3-4

Ons het in hierdie grendeltyd baie geleentheid gehad om te dink aan wat ons lewe sinvol maak. Ons het agtergekom dat dit nie ons status of besittings is nie. Dit is hartseer dat ons so baie energie in die lewe spandeer om die leer van sukses uit te klim, en dalk te laat agterkom dat die leer teen die verkeerde muur gestaan het. Van nature is ons self die middelpunt van ons heelal. Dit begin van kleins af, wanneer ons in die tierende twee’s is. Dan ontdek ek dat ek 'n mens op my eie is, met my eie wil. Ek wil alles hê, wanneer ek dit wil hê. Maar dit veroorsaak groot konflik, dit wat ek wil hê behoort dikwels aan iemand anders. Deel van grootword is om te leer om te deel. Om ander ook te begin raaksien. Volwassenheid gebeur wanneer ek dit regkry om ander se belange bo myne te stel, en hulle te dien, soos Jesus ons gewys het toe Hy voete gewas het in Johannes 13. Hierin lê 'n groot geheim vir ons lewensgeluk opgesluit. As ons net vir onsself lewe, gaan ons redelik eensaam en gefrustreerd in die lewe wees. As ek dit regkry om my naaste te dien, gaan dit my verhoudinge met ander mense baie positief beïnvloed. Maar wat dan van my belange? Wel, as ons deel van 'n gesonde gesin en geloofsgemeenskap is, dan stel ander jou weer eerste. Dis 'n wen-wen situasie. Dien ander, en jy sal gelukkig wees.

Die tweede ding wat ons moet vermy, is eersug. Ons hou daarvan om geëer te word. Ons wil beter as ander presteer, en raakgesien word terwyl ons dit doen. Maar om altyd die beste te probeer wees ten koste van ander gaan ook jou menseverhoudings sleg negatief beïnvloed. Die geheim vir gelukkige verhoudings: die vrug van die Heilige Gees van nederigheid. Nederigheid beteken nie dat ek almal se vloerlap moet wees nie. Dit beteken nie dat ek minder van myself moet dink nie. Die geheim is om minder aan myself te dink. Wanneer my fokus daarop is om ander te dien, en hulle belange te bevorder, dan wen almal. Die bekende beeld sê: as die gety inkom, dan styg al die bote in die hawe. Alles wat jy doen om ander te dien, beïnvloed jou eie lewe positief.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U aarde toe gekom het om te dien. Deur u diens is die wêreld 'n beter plek. U was selfs bereid om voete te was soos 'n dienskneg. Leer my om so te dink, en op te tree. Help my om geleenthede raak te sien om ander mense te dien, en hulle lewens beter te maak. Ek weet U sal ook vir my sorg. Amen