Ewald Schmidt

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige gevoel en meelewing- maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees, een in liefde, een van hart, een in strewe.” Filippense 2:1-2

Om oor vandag se onderwerp te skryf, doen ek met groot huiwering. Ek weet so baie mense het al diep seergekry in die kerk. Mense kan selfs van kerk iets verskrikliks maak. Maar dit is bedoel om so anders te wees. Paulus begin deur te sê waar die fondament van ons geloof lê. Ons het 'n ontmoeting met Jesus as die lewende Here in ons lewens gehad. Hy het ons verlos, en vir ons die ewige lewe gegee. Met sy opstanding het Hy die vyand se ergste wapens vernietig, en ons waarlik vry gemaak. Ons Here Jesus het ons aangespoor deur sy Heilige Gees, om in sy liefde te leef. Ons het deel geword van God se familie – die gemeenskap deur die Gees. Daardie gemeenskap is in die eerste plek met die Vader en die Seun, sê 1 Johannes 1: 3. Ons word deur geloof ingetrek in hierdie netwerk van liefde in. Ons behoort aan God. Daarom behoort medegelowiges ook aan mekaar – ons het dieselfde Vader, ons is een groot huisgesin.

Die kerk was bedoel as 'n veilige ruimte vir gelowiges, waar ons in geloof saam groei. Ons het soveel opdragte in die Nuwe Testament ontvang oor ons verantwoordelikheid teenoor mekaar. Net om weer te onthou – die groot opdrag: “Julle moet mekaar so lief hê soos wat Ek julle het” in Johannes 13:34. Daarom is die kerk bedoel om die plek te wees waar ons diep omgee vir mekaar, en meeleef wanneer een van ons swaar kry. Nou kom die opdrag: maak groot erns om daardie eenheid wat die Gees gee, te bewaar. Ons Here Jesus het mos gekom as die Vredevors, om stukkende verhoudings heel te maak. Daarom word van ons verwag om eensgesind met ons medegelowiges te wees. Een in liefde, een van hart, een in strewe. Dit beteken nie dat ons altyd dieselfde dink nie. Geen huisgesin se lede dink dieselfde oor enige onderwerp nie! Nee, eensgesindheid beteken om saam op God se pad te wees, en mekaar te ondersteun. Dit vra om vir mekaar ruimte te maak om maar uniek te mag wees, en steeds welkom by “ons” te wees. God het die kerk bedoel as 'n plek van omgee, en eensgesindheid. Kom ons maak dit so!

Gebed: Here, dankie dat ons so baie genade van U ontvang het. Dankie dat dit ons lewens kom verander het. Help ons om ons medegelowiges met u oë raak te sien. Verander my hart, dat ek my naaste kan liefhê, en dien, soos U my gewys het. Amen