Ewald Schmidt

Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamgestry het vir die geloof in die evangelie, en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik het nie. Dit is vir hulle 'n teken van hulle ondergang, en vir julle 'n teken van julle redding, en dit kom van God. God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly…” Filippense 1: 27-29

Die hoofsaak van ons lewe is die belangrikste ding wat daar vir ons is. Dit waarvoor ons gemaak is, dit wat ons lewe sinvol maak. Paulus sê: die heel belangrikste ding in ons lewe is om te lewe volgens die evangelie van Christus. Wat beteken dit prakties? Ons Here Jesus het na hierdie wêreld toe gekom as die Vredevors, om stukkende verhoudinge te kom heelmaak. Hy het vrede met God gebring, en herstel in ons stukkende verhoudings met ons medemens. Die aand voor sy kruisiging het Hy in Johannes 13:34 en 15:12 één opdrag gegee, die heel belangrikste een vir sy dissipels van alle tye: “Julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet.” Die evangelie van Christus is die verkondiging van die liefde van God, wat mense se lewens kom heel maak. Ons het daardie liefde in ons lewens ervaar, in Christus is ons nuwe mense, God se kinders. Nou is die belangrikste saak in ons lewe om so te leef dat God se liefde vir almal rondom ons sigbaar word. Ons is geroep om soos Jesus te dien, sodat die wêreld mag glo. Ons moet soos Jesus vredemakers wees. Dit verander gesinne, en gemeenskappe. Dit kan ons land verander wanneer gelowiges se eerste prioriteit is om God se liefde teenoor almal uit te leef.

Om dit te doen, is nie maklik nie. Dit vra 'n stuk selfverloëning. Om ander te dien, en hulle lief te hê soos Jesus ons beveel het, vra dikwels dat ons eie trots gesluk moet word. Soms moet ons onsself verloën, ons eie begeertes op die agtergrond plaas. Maar dit is wat die lewe in die geloof beteken. Vers 29 praat hard: Ons is geroep om Jesus te dien, en dis 'n voorreg! Ons weet dat ons in Hom moet glo, dis so bietjie moeiliker om opgewonde te raak daaroor om vir Hom te ly. Onthou Jesus se woorde: As jy my wil volg, sal jy jou kruis moet opneem. (Matteus 16:24-25)

Mag ons soos Paulus sê: Om te lewe is vir my Christus, om te sterwe is vir my wins!

Gebed: Here, soms vergeet ons hoe duur ons gekoop is, en hoe kosbaar ons nuwe lewe as u dissipels werklik is. Dankie dat U ons gered het, en ons deel gemaak het van u reddingsoperasie vir die hele wreld. Help ons om met ons lewe te getuig dat U die Here is. Help ons om eensgesind te wees. Maak ons bereid om vir U te ly waar nodig. Mag ons soos Paulus sê: U is my lewe! Amen