Ewald Schmidt

 

“Ek is veral daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit enduit sal voer en dit sal voltooi op die dag wanneer Christus Jesus kom. Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangeneskap as in my verdediging van die evangelie, en die bevestiging van die waarheid daarvan.” Filippense 1: 6-7

 

Ek ry so nou en dan in Rigellaan, Pretoria, verby 'n winkelkompleks wat halfpad gebou is, en toe net so gelos is. Die beleggingsfirma wat dit probeer bou het, het bankrot gespeel. Dit laat my elke keer dink aan die reuse bedrag geld wat vermors is, en 'n reuse gebou wat net staan en verweer sonder enige nut vir iemand. Soms wonder ek of my lewe dalk ook soos daardie winkelkompleks is. Ons Here Jesus het darem so 'n groot belegging in my, en elke ander gelowige se lewe gemaak aan die kruis. Gaan ek enduit kan volhou, en groei, en darem vir die Here 'n wins op sy belegging wees? Dank die Vader, Hy dink nie op hierdie manier oor ons nie. Die vraag is nie of ek sal kan volhou nie, maar waarmee God in my lewe besig is.

 

Met ons wedergeboorte het ons kinders van God geword. Hy het 'n nuwe werk in elkeen van ons se lewens begin. Die troos van vers 6 is dat God gaan aanhou met dit wat Hy in my lewe doen, totdat Hy daarmee klaar is. Dit is die groot genade waaroor ons Vrydag gepraat het. EK is seker maar 'n moeilike bouperseel. So dikwels moet die Here my geknoei afbreek, en dan weer opbou soos Hy dit wil hê. Maar God word nooit moeg daarvoor om ons nuwe, vars genade te gee nie. Hy hou aan met ons. Soos 'n geduldige ouer wat sy kind leer loop, so leer die Here ons om sy nuwe pad saam met Hom te loop. Paulus sê: die Here gaan geduldig met ons aanhou, totdat ons Here Jesus terugkom. Ons toekoms is veilig, dis in goeie hande. God maak klaar wat Hy begin het.

 

Gebed: Dankie, Vader, dat U in my lewe aan die werk is. U het 'n goeie werk in my begin toe ek Jesus as die Here van my lewe leer ken het. U het my 'n nuwe mens gemaak. Maar Here, ek is so bewus daarvan dat ek nog nie naastenby uitgekom het by die bouplanne wat U vir my lewe het nie. Dankie dat U my nie net los nie. Dankie dat U aanhou met my, en elke dag vir my nuwe genade uitdeel. Wanneer ek voel of ek nie meer kan nie, help my om te onthou dat U met my sal aanhou, en uithou, totdat Jesus terugkeer. My lewe is veilig in u hande, en daarvoor dank ek U vandag! Amen