Ewald Schmidt

“Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” Filippense 1:1-2

Oor die wêreld heen is 2020 sover een van die mees uitdagende tye. Ons het vinnig geleer dat niks meer vanselfsprekend is nie. Die inperkingstyd het ons eers baie bang en moedeloos gemaak. Maar met die Here se genade het ons begin aanpas, en weer na die fondament van ons lewe begin kyk. Kan 'n mens in moeilike omstandighede gelukkig wees? Kan jou lewe steeds sinvol beleef word, selfs wanneer so baie onsekerheid heers?

Hierdie is 'n goeie tyd om Filippense te lees. Dis een van Paulus se gevangenisbriewe. Hy is onskuldig in die tronk, en sou uiteindelik die hoogste prys vir sy geloof in Jesus betaal. Tog is hierdie brief vol vreugde, en hoop. Die fondament van Paulus se blydskap en hoop is alreeds in vers 1 te sien. Paulus en Timoteus stel hulleself bekend as dienaars van Christus. Hulle behoort aan Jesus. Hulle skryf hierdie brief aan die gelowiges in Filippi, wat uiteindelik deur die Here se genade ook in ons hande beland het. Wie is die lesers? Mense wat deur Jesus aan God behoort. Dis nie die omstandighede wat bepaal wat met ons gebeur nie. Ons behoort aan die Here! Onder enige omstandighede is daar twee geskenke wat die Here graag met sy kinders deel. Die eerste is sy genade. Die Here het my lief, ongeag hoe my lewenspad tot hier geloop het. Hy het my lief, en ek kan niks doen om daardie liefde te verdien nie- Hy gee dit graag deur Jesus. Die tweede geskenk is sy vrede. Vrede met God, wat net moontlik is wanneer ons aan Jesus behoort. Jesus is die Vredevors, Hy maak dit vir ons moontlik om in vrede met ons naaste te leef, en vrede in onsself te beleef. Niemand kan God se genade en liefde van sy kinders weerhou nie.

Tye is moeilik deesdae. Maar ons behoort aan die Here! Ons leef uit sy genade, Hy sien ons raak! Hy oorlaai ons met sy vrede – ons is welkom by Hom. Hy help ons met ons verhoudinge met ander mense. Hy gee rus in ons gemoed.

Gebed: Here, dankie dat ek aan U behoort. Dankie dat U my oorlaai met u genade. Dankie dat U besig is om my heel te maak, deur die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Help my om vandag te onthou dat ek veilig in u hande is. Amen