Ben Fourie

“En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het”. 1 Johannes 4:14

Die woord “red” word in my woordeboek verklaar as “uit ’n gevaar help”. Dit kan ook as “bevry” verklaar word. Die twee verklarings sê presies wat God doen wanneer ons in die Bybel lees dat Hy die Redder of Verlosser is. In die Ou Testament kom die begrip dikwels voor, veral wanneer God iemand gebruik om sy volk uit die hande van een of ander vyand te red. In Rigters 3 sien ons byvoorbeeld dat Israel vir agtien jaar lank deur die koninkryk van Moab oorheers is en wanneer hulle dan tot God om hulp roep, lees ons in vers 15: “en Hy het ’n redder vir hulle na vore laat kom.” Ook in die lewens van individue hoor ons van God wat as Redder of Bevryder optree. Dink aan Job se onsterflike woorde in Hoofstuk 19:25 “Ek weet dat my (Ver)Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer”.

In die Nuwe Testament word die Verlosser gedagte natuurlik baie sterk aan Jesus Christus gekoppel, maar altyd in die konteks van God wat Jesus as Verlosser gestuur het. In 1 Timoteus 1:1 lees ons: “Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop” en in Judas vers 25: “aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here …” Verlossingswerk is ten diepste die werk van die Drie-enige God, want die Vader en die Seun werk nooit sonder die Gees nie.

Reg deur die Bybel kry ons die tema wat soos die spreekwoordelike goue draad deur alles loop, naamlik dat God ons wil verlos uit wat Paulus in die brief aan die Romeine in hoofstuk 7:24 ’n “doodsbestaan” noem. Die grootste gevaar waarin die mens ooit kan beland is beslis ’n lewe onder die wet van die sonde. As ek die woordeboek verklaring kan gebruik, wil God ons deur Jesus Christus uit hierdie grootste gevaar van almal help.

Hy het dit reeds gedoen aan die kruis en daarom word hy in Openbaring 5 geteken as die Een wat die oorwinning behaal het. Hy is die Leeu uit die stam van Juda wat sonde en dood oorwin het. Uit sy mond kom die skerp tweesnydende swaard van die Woord en Hy is die een met die goue koningskroon op sy kop. Saam met Job kan ons weet ons Verlosser leef en ons leef met Hom. Bo alles is dit nie net vir my waar nie, maar ons weet Hy is ook die “Redder van die wêreld”.

Gebed: Wat ’n vreugde om te weet dat U my persoonlik verlos het uit die bestaan wat na die ewige dood toe lei. Dankie, dat U die ware Verlosser is. Amen