Ben Fourie

“Ek is die Afstammeling, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester”. Openbaring 22:16

Die boek Openbaring is veral as troosboek geskryf vir mense wat erg gely het en onder die Romeinse regering van die tyd vervolg is. Reeds in ongeveer 56-57 n.C. toe Paulus die brief aan die Romeine geskryf het, was daar gelowiges wat vervolg is. Vanaf 64 n.C. onder keiser Nero het die vervolging toegeneem en na die val van Jerusalem in 70 n.C. en die vernietiging van die tempel, is beide Jode en Christene erg vervolg.

Tydens die regering van keiser Domitianus (81-96 n.C.) het dit net meer geword en die boek Openbaring is in die tyd geskryf om gelowiges te versterk in hulle geloof en aan hulle ’n uitsig te bied in die donker tye wat hulle beleef het.

Ons dink dikwels die meeste Christene het uit die Griekssprekende heidenwêreld gekom, maar ’n baie groot groep was ook bekeerde Jode. Vir hulle sou die vers uit Openbaring groot betekenis gehad het. Soos ons uit die geslagsregister in Matteus 1 kan sien, was dit baie belangrik om te kon aanwys dat Jesus uit die koninklike geslag van Dawid kom. Dit waarskynlik ook omdat daar in Jesaja 11:1 voorspel word: “n Takkie sal uitspuit uit die stomp van Isai” wat natuurlik die vader van koning Dawid was. Al het die keiser van Rome mag oor lewe en dood gehad, wil Johannes daarop wys dat Jesus die ware magtige Koning is, die Een op wie die volk van God so lank gewag het.

Hy gebruik dan die besondere beeld van die helder Môrester. Die beeld het ten doel om die gelowiges wat gevoel het hulle is in die nag vasgevang te bemoedig. Almal weet dat wanneer die môrester verskyn, die nag amper verby is. Ons kan dalk ook dink aan Bileam se voorspelling in Numeri 24:17 :”Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ’n ster uit Jakob, daar staan ’n heerser in Israel op.”

Ook vir ons wat dalk nie onder vervolging ly nie, maar tog soms ook voel ons is in die donker van die lewe verdwaal, skyn die Môrester helder. Dit is die bewys dat selfs die donkerste nag ook verbygaan. Jesus heers as Koning inderdaad ook oor my donkerste nag.

Gebed: Ons dank U Here, dat ons in ’n land woon waar ons nie as gevolg van ons geloof vervolg word nie. Baie dankie dat wanneer ons soms vanweë watter rede ook al net donkerte om ons sien, U baie naby aan ons is. Amen