Ben Fourie

“’Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” Openbaring 1:8

“Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.”  Openbaring 21:6

As student het dit met my en die Griekse taal maar soms beroerd gegaan. In Prieska waar ek grootgeword het, het ons skaars Engels geken, wat nog te sê van Grieks. Ek onthou nog hoe trots ek was toe ek vir die eerste keer die Griekse alfabet kon lees en skryf en uiteindelik kon agterkom wat die simbole alfa en omega beteken. In die geel boekie van professor Van Rensburg was dit maar net die eerste en laaste letter van die Griekse alfabet, maar soos dit in die boek Openbaring gebruik word, kry dit oneindig meer betekenis.

Hierdie uitdrukking omvat die somtotaal van Jesus se mag, sy alomteenwoordigheid, sy betrokkenheid in die geskiedenis, toekoms en ewigheid. Al kyk ons ook hoe ver terug in die verlede, ja tot die begin van die skepping self, sien ons Hom daar en al kyk ons ook in die toekoms so ver as die ewigheid self, sal ons Hom daar sien. In en deur Hom kry ruimte en tyd waarlik sin. As ons terugkyk na die onverstaanbare diep begin van alles, die Alfa, en ons kyk na die verborge toekoms en selfs verder na iets so onbegrypbaar soos die ewigheid – met Jesus as Omega, waar laat dit ons?

As ek oor God in hierdie terme dink, raak ek eintlik beangs omdat ek so min daarvan weet en verstaan. Daarom is ek so dankbaar dat hierdie twee verse nog ander inligting ook bevat. In hoofstuk 1:8 lees ons dat Hy nie net die een is wat was en wat kom nie, ons lees ook die woorde: ”Hy wat is”. As ek die woorde hoor dink ek aan God wat vir Moses sê sy naam is “Ek is wat ek is”. Jesus is nou teenwoordig in die wêreld, hy is aktief werksaam deur die Heilige Gees, ook in my lewe. Hy wil ook nou vir ons uit die fontein met lewende water laat drink. Alhoewel Hy hierdie oneindige groot Wese is, is Hy, sodat ek kan verstaan, ook Jesus wat gesê het: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

Gebed: Dit is so lekker om te weet dat U nie so ver weg en so oneindig is dat U nie aan my as een van u klein kindertjies kan tyd afstaan nie.  Amen