Ben Fourie

“en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Johannes 14:26

“Parakleet” se betekenis is meer as net ’n advokaat of pleitbesorger. Hy is ook Helper en Trooster. Beide hierdie verklarings van wat die Gees sou kom doen, kom na vore nadat Jesus opgevaar het na die hemel en dus nie meer sigbaar by die dissipels teenwoordig was nie. In die tydperk tussen hemelvaart en wederkoms het die kerk en elke individuele gelowige die helpende en troostende teenwoordigheid van die Gees baie nodig. Ons moet steeds by die Heilige Gees “skoolgaan” om te kan verstaan wat Jesus deur sy woorde en dade vir die wêreld kom doen het, sodat ons hierdie kennis kan oordra na die wêreld.

Dit is nie altyd maklik om volgeling en verkondiger te wees nie en daarom het ons elke dag die Trooster en Helper nodig. Hy maak dit vir ons moontlik om ten spyte van ons vrese en tekortkominge voort te gaan met die verkondiging van die Evangelie aangaande Jesus Christus.

Met Jesus se hemelvaart bly die dissipels alleen agter. Ons is geneig om die Trooster te sien as iemand wat hulle moet “troos” soos wat jy mense by ’n begrafnis troos. Allermins. Na die hemelvaart is die dissipels terug na Jerusalem en kom hulle elke dag bymekaar om te bid en te wag op die Gees wat hulle sou toerus vir hulle taak. ’n Mens kry nie die indruk van ’n klomp hartseer mense nie, maar wel van ’n groep wat oorgehaal sit en wag vir die taak op hande. Trooster is hier eerder iemand om vir hulle ’n veilige ruimte te skep van waar hulle kan vertrek op hulle getuienisaksie in die wêreld.

Die dissipels het ook verder rede gehad om so vol vertroue te wees, want die Gees, so het Jesus belowe, sal ook hulle Helper wees. Dit sien ons in vervulling gaan in Handelinge wanneer die volgelinge van Christus ten spyte van alle teenkanting en lewensgevaar, die Kerk dwarsoor die bekende wêreld van hulle tyd vestig.  

Dit alles is vandag nog net so waar vir jou en my. God se Gees is hier. Hy vou my in sy troostende beskerming toe en help my om die blye boodskap aangaande Christus uit te leef.

Gebed: Here, maak my asseblief ’n dapper dissipel. Amen