Ben Fourie

“Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: ‘Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode’”. Johannes 19:19

Ons sien dikwels op kruise waar Jesus se dood uitgebeeld word die letters INRI. Dit is die Latynse woorde Iesus Nazarenus Rex Iudaeorum wat natuurlik beteken “Jesus van Nasaret, Koning van die Jode.” Oor hierdie opskrif op die kruis was die priesterhoofde van die Jode bitterlik ontsteld. Hulle argument teenoor Pilatus was dat Hy nie die koning van die Jode is nie, maar slegs beweer het dat Hy die koning is.

Pilatus was waarskynlik op daardie stadium al redelik moeg vir die hele saak en vir veral die Joodse owerstes en het gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe” en deur die skrywe bevestig hy eintlik onwetend vir altyd wie Jesus werklik is. Sy opskrif gaan egter nie ver genoeg nie, want terwyl Jesus werklik Koning van die Jode is, is Hy ook die Koning van die hele wêreld.

Ek kan myself maar weinig steur aan die gedoentes van koninklikes oral in die wêreld waar daar nog koningshuise bestaan. Hulle het immers geen invloed op my lewe nie, maar in Bybelse tye was konings van baie groot belang en is mense se lewens totaal en al beheer deur wie op daardie oomblik op die troon was. Daar was konings wat uitstekend regeer het en die wetenskap, skryfkuns en kultuur bevorder het, maar ook ander wat vernietigend op hulle samelewing ingewerk het. Dit sien ons ook by die konings van Israel.

Anders as wêreldse konings bereik Jesus se koningskap nie ‘n hoogtepunt met ’n kroon vol edelstene nie, maar met ’n kroon vol dorings wat die soldate gevleg en op sy kop gesit het. Sy grootste oorwinning het Hy nie op die slagveld behaal nie, maar aan die kruis. Toe dit gelyk het of die bose magte die oorwinning behaal, het Jesus sy groot oorwinning oor die sonde behaal en sy mag as Koning vir ewig gevestig. Net soos aardse konings oor hulle onderdane heers, heers Jesus as Koning ook oor ons lewens, maar sy heerskappy is gevul met liefde. In sy koninkryk is ons nie onderdane nie, maar seuns en dogters van die Koning self.

Gebed: As u kind wil ek baie dankie sê dat U bereid was om vir my ’n doringkroon te dra. Amen