Xanthe Hancox

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.  Kolossense 1:3-5

Die stad, Kolosse, was nie juis 'n belangrike stad in die eerste eeuse Romeinse Ryk nie. Alhoewel Paulus nie self daar gepreek of die kerk daar geplant het nie, het hy net soveel vir die kerk daar omgegee as vir die kerke in die groter stede soos Efese of Korinte.

In die aanhef van sy brief aan die Kolossense dank Paulus God vir die geloof en liefde van die Kolossense (Kolossense 1:3-4). Paulus stel dit duidelik dat hulle geloof en liefde nie iets is wat uit hulleself kom nie. Net so min as wat dit vir die Christene in Kolosse moontlik was om geloof en liefde uit hulleself voort te bring, net so min kan ons dit uit onsself voortbring.

Die Bron van geloof en liefde is nie van hierdie wêreld nie.

Hoop is die fondasie van geloof en liefde, die bron waaruit hulle voortspruit en wat deur die krag van die Heilige Gees onderhou word. Soos ons die afgelope weke ontdek het, is ons hoop nie 'n wens vir iets wat miskien sal gebeur nie, maar dit is 'n huidige verwagting van dit wat definitief ten volle in die toekoms ondervind sal word.

Die wete dat ons die volheid van verlossing in die toekoms sal beleef, onderhou ons geloof en liefde in die tyd wat ons nou beleef. Ons hoop moedig geloof en liefde aan.

Om te leef in die definitiewe sekerheid van die hoop wat in die hemel vir ons bewaar word, bevry ons van hebsug, verbittering en wanhoop, van ongeduld en jaloesie. Om vasgevang te wees in hierdie toekoms waarvan ons, volgens Paulus, reeds in die evangelie gehoor het, gee ons krag om in geloof en liefde te leef en om voorbeelde van God se nuwe skepping te word.

Gebed: Here Jesus, U het gegaan om vir ons 'n plek voor te berei. Berei ons asseblief voor vir daardie plek. Deur die wonderlike hoop vir dit wat op ons wag, gee asseblief aan ons die krag om elke dag in geloof en liefde te leef. Amen