Ben Fourie

“‘Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem’. Die naam beteken God by ons.” Matteus 1:23

Die naam Immanuel kom weliswaar net op drie plekke in die Bybel voor, naamlik twee keer in Jesaja en hierdie een keer in Matteus, maar die betekenis van die naam is dwarsdeur die Bybel sigbaar – God met ons. As ons die naam in die oorspronklike Hebreeus lees word dit opgebreek in Immanu – by ons, en El – God. In die tyd toe Jesaja die voorspelling oor Immanuel gedoen het, was die koninkryk van Juda, onder koning Agas, in groot gevaar.

Die Noordelike koninkryk van Israel en die koninkryk van Aram (die hedendaagse Sirië) het saamgespan om teen Juda oorlog te maak. Ons lees daarvan in 2 Konings 16. Dan kom die belofte in Jesaja 7:14 dat God vir Juda ’n teken sal gee sodat hulle nie bevrees hoef te wees vir wat voorlê nie. Die teken sou ’n kind wees wat binne afsienbare tyd gebore sou word. Sy naam sou Immanuel wees as teken van God se teenwoordigheid. Ons lees nie vêrder van die geboorte van die seuntjie nie, maar alhoewel die twee koninkryke Juda beleër het, het die geveg nooit plaasgevind nie en was die gevaar verby.

Meer as 700 jaar later word die tweede Immanuel gebore, maar Hy sou nie net as teken dien daarvan dat God met die volk is nie, Hy sou deur sy lewe, dood en opstanding God se teenwoordigheid sigbaar maak. Hierdie Immanuel sou die hele verhaal van God se ingrype in mense se lewens ’n werklikheid maak. In en deur Hom kry al die ander kere wat God sy “by ons wees” geïllustreer het, gestalte.

Elkeen van ons sal seker ’n storie kan vertel oor ’n geleentheid of gebeurtenis waar ons die teenwoordigheid van God op ’n besondere manier beleef het. Dalk is dit goed as ons vir mekaar ook die stories vertel. U is welkom om vir my terugvoer te gee oor waar u God se teenwoordigheid baie spesifiek ervaar het.

Ek wil ook vir u ‘n verhaal vertel, maar dit is nie ’n persoonlike verhaal nie. Dit is die verhaal van God se teenwoordigheid by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika die afgelope 200 jaar. Op 23 Augustus 2020 het ons die 200ste verjaardag van die Bybelgenootskap feestelik gevier en ons tema was: Die Bybel: Hoop vir almal. Vir 200 jaar al ervaar die Bybelgenootskap God se “by ons wees” in ons besig wees met sy Woord en probeer ons dit wat ons ervaar met die hele land deel sodat elkeen in Suid-Afrika ware hoop kan ervaar.

Gebed: Ons dank U dat ons nooit weer sonder u teenwoordigheid sal wees nie en nooit weer alleen sal voel nie, want U het eens en vir altyd Immanuel geword. Amen