Ben Fourie

“In die begin was die Woord daar en die Woord was by God en die Woord was self God. Johannes 1:1

Die Logos. Hierdie term, wat Johannes se hele verstaan van wie Jesus is tot uitdrukking bring, is baie skaars in die Nuwe Testament. Dit kom in hierdie vorm, waar die Logos of Woord direk op Jesus van toepassing is, net in bogenoemde vers en in die eerste brief van Johannes asook in Openbaring voor. Al drie die boeke is interessant genoeg deur Johannes geskryf. Dit is so ’n belangrike begrip dat ons dit oor twee dae gaan behandel.

Denke oor die logos was so ver terug as vyf eeue voor Christus reeds in die Griekse filosofie bekend. Dit is grootliks as sinoniem vir die mens se rede verstaan. Die woorde of begrippe wat jy deur die rede uitspreek, definieer dus wie jy is.

Johannes gee ’n nuwe betekenis aan die idee van die Logos wanneer hy Jesus gelykstel aan die Woord en dan spesifiek die gedagte dat die Woord vanaf die heel vroegste tye by God is en self ook God is. Dit gee ’n blik op die besondere verhouding tussen God en Jesus. Die mense van Johannes se tyd sou beslis die eerste woorde van Genesis geken het. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Met dieselfde woorde begin ook die Evangelie soos Johannes dit beskryf – in die begin was die Woord. Genesis vertel van die eerste skepping en Johannes vertel van die nuwe skepping in en deur Christus. Hy wil sy lesers onder die indruk bring dat Jesus van Nasaret nie maar net ’n gewone mens of profeet was nie, maar self God is. Dit is juis hierdie gedagte wat die Joodse owerstes as die grootste godslastering gesien het.

Dit was egter nie Johannes se enigste doel nie. ’n Mens kan hier aansluit by die ou filosowe se gedagte dat ’n mens deur jou woorde openbaar wie jy is en wat jy dink. In die opsig is Jesus dan as Woord die manier hoe God openbaar hoe Hy oor ons “dink” en “voel”. Wanneer God sy Seun na die aarde stuur, word dit glashelder hoe belangrik ons vir Hom is en in Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding uit die dood, word God se liefde vir ons verwoord soos Johannes dit self doen in hoofstuk 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Gebed: Dankie, Here. Amen