Ben Fourie

“Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was en sy Naam is: ‘Die Woord van God’”. Openbaring 19:13

Tussen die Logos van die Evangelie en die Logos van Openbaring lê die hele geskiedenis van die kerk. In die woorde van Johannes in hoofstuk 1 van die Evangelie lê die begin van Jesus se bediening op aarde en in die res van die Evangelie hoor ons van sy prediking, sy verhouding met mense, sy swaarkry en vernedering, sy sterwe.

In die Evangelie “praat” God met ons deur sy Seun as vleesgeworde Woord, want sê vers 14: ”Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” Wanneer God so met ons praat kan ons beter verstaan wie en wat Hy is, want wanneer ons Jesus herken as “medemens” verstaan ons iets meer van die Wese wat ons God noem. Hierdie “soos ons word” is egter net een kant van wie die Woord van God werklik is.

Wanneer ons Hom in Openbaring ontmoet, is dit nog dieselfde Jesus, maar nou is God se manier van “praat” met ons drasties anders en is dit ’n nuwe openbaring van wie Jesus is. Weg is die beeld van stowwerige Jerusalem strate, weg die beeld van ’n jongman wat maar lyk soos baie ander van sy tyd en weg die vloekende en drinkende en dobbelende soldate teen ’n koppie met die naam Golgota.

Wat ons nou sien is ’n wit perd met ’n ruiter wie se oë soos vuur vlam op wie se kop daar heerserskrone is en van wie vers 16 sê dat Hy: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers” is. Boweal is hierdie ruiter se Naam ook die Woord van God. Die Woord wat aan die begin van die skepping daar was, is ook die Woord wat aan die einde van die tyd en die begin van die nuwe skepping daar sal wees.

God “praat” of handel nou met die wêreld deur die oorwinnende Jesus, die koning wat sal heers oor alles in die nuwe hemel en op die nuwe aarde. En ons is koningskinders!

Gebed: Saam met die groot menigte in Openbaring wil ek ook uitroep: ‘Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God!” Amen