Ben Fourie

“Daar was ook ’n stem uit die hemel: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My’” Markus 1:11

Dat Jesus die Seun van God is, is vir ons verstaan van godsdiens en geloof ononderhandelbaar. Die idee van godeseuns was niks vreemds nie. In die Assiriese en Sumeriese godsdienste was daar gode en hulle seuns. In Egipte was daar farao’s wat hulleself gesien het as seuns van die songod Ra en selfs in die Romeinse mitologie is daar voorbeelde soos Herkules, die seun van Zeus.

Jesus as Seun van God verskil wesenlik van al hierdie mitologieë en die verskil lê daarin dat hulle aardse wesens is en aardse wesens bly, terwyl Jesus as Seun van God op ’n tyd in die geskiedenis die gestalte van ’n mens aangeneem het, maar steeds nog God was.

Hier by die doopwaters van die Jordaan vind iets ontsettend belangrik plaas. Wanneer God se stem uit die hemel praat, is dit om eens en vir altyd te bevestig dat hierdie nie maar net nog ’n profeet,  nog ’n rabbi, nog ’n godeseun is nie, maar die Seun van God self, die Seun oor wie die Vader hom verheug.

Ons kan die wortels wat hier gebeur reeds in die Ou Testament naspeur. In Psalm 2:7b lees ons: “Hy het vir my gesê ‘Jy is my seun, vandag het ek jou Vader geword.’” Alhoewel hierdie vers dikwels op Jesus toegepas word, gaan dit in die psalm eintlik oor ’n aardse koning se troonsbestyging. Die psalm word in Handelinge 4:25 aan Dawid toegedig maar die psalm self vermeld nie wie die skrywer is nie. Dit is nie so belangrik nie, maar wat wel belangrik is, is dat die koning weet dat God sy koningskap goedkeur deur die gedagte van “Jy is my seun”.

Dit is presies wat by die Jordaan gebeur. Deur aan almal daar teenwoordig te sê dat Jesus sy Seun is, gee God aan Jesus die gesag om sy opdrag uit te voer. Hoe sigbaar hierdie mag en gesag van Jesus werklik is, sien ons wanneer selfs die besetene van Gerasa vreesbevange uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste.” Hy is werklik koning oor alle magte en regerings oor sienlike en onsienlike dinge en boweal het Hy as koning oor die dood getriomfeer.

Gebed: Ek is so dankbaar dat U ook Koning in my lewe is. Maak asseblief van my ’n goeie en getroue onderdaan. Amen