Xanthe Hancox

Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.  Jesaja 2:4

Hierdie Bybelvers herinner my aan die Knife Angel – 'n moderne standbeeld in die Verenigde Koninkryk, gemaak uit 100 000 lemme. Die messe is versamel tydens 'n landswye amnestieveldtog om geweldadige mesaanvalle asook die behoefte aan maatskaplike verandering te beklemtoon. In vandag se vers teken Jesaja se profesie 'n pragtige prentjie van wapens wat in plaasimplemente verander is omdat hulle nie langer vir oorlog benodig word nie.

Jesaja se profesie laat 'n mens verlang na die dag wanneer daar nie meer oorloë sal wees nie. Jesaja sien hoopvol uit na daardie dag, en ons hoop saam met hom.

Maar die hoofopskrifte in ons daaglikse nuusverslae is 'n bewys dat, ondanks die pogings van individue en gemeenskappe regoor die wêreld, die wêreld waarin ons leef nog lank nie 'n vreedsame plek is nie. Daagliks is daar nuwe bewyse van ons onvermoë om oorlog te vermy en vrede te omhels. Deur ons hoop in Christus verwag ons die volkome vrede van die ewigheid, maar reg nou ondervind ons steeds die gebrokenheid van hierdie wêreld. Vrede tussen ons en God is reeds bewerkstellig, maar dit is nog nie moontlik om daardie vrede volkome uit te leef nie.

Ons kan die Here dank vir die hoop op God se vreedsame koninkryk waarvan Jesaja 2 vertel. Wanneer die Here weer kom, sal daar geen behoefte wees aan wapens om oorlog te maak nie. Onskuldige mense sal nie langer onderdruk word nie en daar sal ook nie nasies wees wat teen ander nasies saamsweer nie. Daar sal vrede in die wêreld wees.

Ons almal verlang na vrede. En tot die tyd van die wederkoms aanbreek, moet ons alles in ons vermoë doen om vreedsame lewens te lei.

Gebed: Prins van Vrede, ons bely dat oorlog steeds 'n realiteit in ons wêreld is, en ons bid dat u vrede uiteindelik oral sal heers. Amen