Xanthe Hancox

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.  1Johannes 3:2-3 (1933/1953-vertaling)

Hoe dikwels het jy al gedink oor hoe dit in die hemel sal wees? En hoe gaan dit wees wanneer ons daar aankom? Openbaring 21 gee ons 'n aanduiding hoe dit nie gaan wees nie – ons weet dat daar geen trane sal wees nie, geen leed, geen nag, geen dood, geen skeiding, geen smart of pyn nie – maar die besonderhede oor dit waarop ons hoop is taamlik geheimsinning.

Daardeur bedoel ek egter nie dat dit in 'n wolk van onsekerheid gehul is nie. Die antwoorde op vrae oor dit waarop ons hoop, is baie beslis en seker, maar nie volkome duidelik oor die werklike belewenis van die lewe na hierdie lewe nie.

Soos 1 Johannes 3:2 dit stel: "…dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie." Ons sal dit net weet wanneer die tyd kom – en nie voor dan nie. Die Bybel is egter duidelik oor iets wat baie belangriker is as daardie detail besonderhede. Ons lees "as Hy [Christus] verskyn, [sal ons] aan Hom gelyk wees."

Dit is belangrik om hierdie stelling binne konteks te lees. Johannes se punt is dat wat ons in ons lewe as Christene geword het, sal skielik geopenbaar word wanneer Christus weer verskyn. En in ons lewe as Christene moet ons stadig maar seker meer soos Christus word. Ons word na sy beeld verander, sodat wanneer ons Hom sien, sal ons Hom sien soos Hy werklik is.

En slegs dan sal dit vir ons moontlik wees om Hom volkome te verstaan en in gemeenskap met Hom te wees.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons u kinders is. Gee dat ons elke dag meer soos Christus sal word sodat ons uiteindelik vir ewig by U kan wees. Skenk aan ons geduld terwyl ons wag op hierdie hoop wat nog in misterie omhul is. Amen