Xanthe Hancox

Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Hebreërs 10:23-25

In die boek Hebreërs lees ons hoe Jesus Christus dit moontlik maak vir God om 'n liefdevolle verhouding te hê met sy onheilige kinders. Jesus is ons volmaakte priester wat Homself opgeoffer het, sodat al God se kinders met Hom verenig kan word. In vandag se verse vertel die skrywer ons wat ons reaksie moet wees op God se genadige liefde in Christus. As God dit alles vir ons gedoen het, hoe moet ons leef?

Een manier is om in hoop te leef – hoop waaraan ons styf kan vashou, onwankelbare hoop. Selfs hier, wanneer die skrywer begin praat oor wat ons moet doen, is dit duidelik dat onwankelbare hoop slegs danksy die getrouheid van God moontlik is. Dit is moontlik om op die beloftes van God te hoop, want God hou sy beloftes. Dit is moontlik om styf vas te hou aan die hoop wat ons bely, want God wat dit waarop ons hoop beloof het, is getrou en Hy doen wat Hy beloof het.

Die skrywer van die Hebreërs moedig ook sy lesers aan om gereeld saam te kom en mekaar te bemoedig. Aanbidding of samekomste met ander Christene is 'n belangrike manier om styf aan die hoop wat ons bely vas te hou. Ander Christene is 'n wonderlike geskenk van God om ons te bemoedig in hoop.

Ontmoet jy ander gelowiges gereeld? Die huidige pandemie beteken dat baie Christene nie, soos ses maande gelede, formele kerkdienste in 'n gebou kan bywoon nie, maar daar is ander maniere om byeen te kom. Miskien in 'n klein byeenkoms in die buite lug, virtuele aanlyn-byeenkomste, of selfs net 'n telefoonoproep kan jou in jou geloof bemoedig sodat jy styf aan die hoop wat jy bely, kan vashou.

Gebed: Here, help ons om getrou te bly aan die hoop wat U deur Jesus Christus aan ons gegee het. Omring ons asseblief met ander Christene wat ons in hierdie lewe van hoop sal bemoedig. Amen