Xanthe Hancox

Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here.  2 Konings 22:18-19

Wie sou nou kon dink dat die woorde hier bo, die boodskap van God aan die koning van Juda, deur 'n vrou aan hom gegee is? Hierdie woorde is gespreek deur Gulda, 'n raadgewer aan koning Josia. Vroeër in die hoofstuk lees ons 'n bietjie meer oor haar: "Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon." (2 Konings 22:14)

Toe boekrolle wat die Wet bevat tydens die herstel van die Tempel ontdek is, is Gulda die een wat die koning se afvaardiging besoek, want sy was 'n geleerde en 'n profeet. Die ontdekking van hierdie boekrolle was die belangrikste ding wat tydens die heerskappy van Josia gebeur het. Sy spreek die woord van God duidelik en met vertroue. Soos die manlike profete gebruik sy tegniese profetetaal en bring God se woord in die eerste persoon. Sy bring, sonder vrees en huiwering, aan Josia, die regverdigste koning in die geskiedenis van Israel en Juda, 'n boodskap wat die volk van Israel veroordeel. Sy gee hom egter ook hoop wanneer sy sê dat hy niks van al die onheil self sal beleef nie.

Wat werklik merkwaardig is van Gulda se verhaal, is dat haar profetiese woorde van oordeel, op 'n geskrewe dokument fokus. Sy wettig dit wat die kern van die Skrif vir Judaȉsme en die Christendom word. Haar bekragtiging van hierdie teks, is die eerste erkenbare aksie in die lang proses om uiteindelik die kanon van die Bybel te vorm. Gulda se bekragtiging van 'n dokument as die woord van God, verleen daaraan die heiligheid wat nodig was om ingesluit te word in die Bybel soos ons dit vandag ken. Is dit nie wonderlik nie?

In hierdie vrouemaand herinner Gulda ons daaraan dat die Here geen probleem het om dieselfde moeilike taak aan vroue te gee as wat Hy aan mans gee nie. Laat ons onthou dat die stem van 'n godvresende vrou ook gesag en waarde dra.

Gebed: Dankie Here vir die voorbeeld wat Gulda aan ons stel. Gee dat haar verhaal ons daaraan sal herinner dat vroue ook draers van hoop kan wees en kragtige getuies van die hoop wat U aan ons beloof. Amen