Xanthe Hancox

Ja, die Here sê: Babel sal 70 jaar lank sterk wees. Daardie 70 jaar moet eers verbygaan. Daarna sal Ek weer goed wees vir julle en doen wat Ek belowe het. Ek sal julle dan laat terugkom na Jerusalem. Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle. Jeremia 29:10-11 (Die Bybel vir Almal)

Jeremia 29:11 is een van die bekende Bybelverse oor hoop. Dit is die tipe vers wat dikwels aangehaal word om mense te bemoedig wat nie seker is vir watter werk hulle moet aansoek doen, of watter studiekursus hulle moet volg, of wat presies God van hulle verwag nie.

Dit is egter belangrik om kennis te neem dat hierdie verse nie aan individue geskryf is nie. Die gedeelte is aan 'n groep, die hele volk van Israel, geskryf. In Jeremia 29:11 word van "julle" gepraat en nie van "jy" nie. In vers 10 verduidelik die Here wat eers moet gebeur voor Hy sy belofte aan die Israeliete gestand sal doen. Ja, die Here sê dat Hy hulle sal verlos, maar slegs na 70 jaar in ballingskap. God het 'n plan om dit goed te laat gaan met sy volk, maar sy plan was heeltemal anders as wat die Israeliete verwag het.

Kan ons dit van toepassing maak op ons vandag? Kan ons hierdie mooi belofte steeds ter harte neem—selfs al was dit lank gelede aan mense in 'n baie ander soort situasie as ons s'n gegee?

Ja! God is 'n God van verlossing en Hy wil almal verlos, net soos Hy die volk van Israel wou verlos en herstel. Hierdie verse is nie net van toepassing op 'n groep geȉsoleerde individue of die groter gemeenskap nie. Dit is van toepassing op beide wat saam as 'n eenheid funksioneer. Die beeld hier is een van individue in 'n gemeenskap, 'n groep mense wat God saam aanbid en hoop op hulle toekomstige verlossing.

Selfs belangriker as ons besluit na watter stad toe ons gaan verhuis of watter beroep reg is vir ons, is die toekomstige hoop van die koninkryk van God waarvan die profete ons vertel en wat vervul is in die heerskappy van ons Koning wat nou heers en wat weer sal kom. Die belofte van Jeremia 29:11 is dus groter as enigeen van ons – en baie beter.

Gebed: Vader, so dikwels is ons soos die Israeliete. Ons luister nie na U nie en volg ons eie sondige weë. Vergewe ons en lei ons terug na u plan vir ons lewe. Dankie vir u belofte van verlossing wat ook aan ons hoop en 'n toekoms gee. Amen