Louise Gevers

En ek sal my ook verder verbly, want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. Filippense 1:18-19

Meer en meer hedendaagse humor, veral op die Internet, maak mense se ontevredenheid met die langverwagte 2020 duidel. Soveel so dat sommige mense die jaar heeltemal wil afskryf asof hulle dit nooit beleef het nie. Alhoewel die lewe nie noodwendig maklik was voor die koms van die koronavirus nie, was dit voorspelbaar en daar was baie feesvieringe om na uit te sien en wat vreugde sou bring. Die afwesigheid hiervan veroorsaak groot teleurstelling.

Met virusgevare wat los loop, en streng regulasies in plek gedurende die grendeltyd om die gevare te bekamp, moes verskeie vieringe en sosiale geleenthede – selfs troues – gekanselleer of uitgestel word. Alles wat leerders se matriekjaar raak, is verwarrend vir diegene in leierskapposisies wat moet onderhandel hoe hierdie leerders die jaar kan voltooi. Die inperking tuis, wat dit onmoontlik maak om familie en vriende te sien, veroorsaak vir baie mense groot angs en kommer en dan praat ek nie eers van wat in die ekonomie gebeur nie. Maar teleurstelling hou nie vir altyd aan nie, hoop is egter blywend.

Die lees in hierdie tyd van Paulus se brief aan die Filippense behoort ons op te beur. Hy kies om die beste te maak van sy tyd in die gevangenis. Hy aanvaar sy teëspoed en gebruik dit as die vertrekpunt wanneer hy geesdriftig bemoedigende woorde aan hulle skryf: "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!" (Filippense 4:4) Paulus vind sy vreugde in Jesus en nie in sy omstandighede nie, en hy is vervul met die Gees.

Sy dankbaarheid teenoor die Filippense vir die liefde wat hulle deur hulle geskenke aan hom bewys het, lei daartoe dat hy met hulle deel hoe probleme hom gehelp het om geestelik te groei: "… ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee"Filippense 4:11-13)

Die waarheid is dat ons nooit gelukkiger sal wees as wanneer ons is waar God wil hê ons moet wees nie en as ons, selfs wanneer die vyand probeer om ons anders te oortuig, sy voorsiening aanvaar. Wat die Here wil hê sy kinders moet ervaar is dit waaroor Paulus aan die Filippense skryf: "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe." (Filippense 2:1-2)

Ons kan Paulus se voorbeeld volg en 2020 gebruik om die Here vir al ons seëninge te dank; deur die krag van die Gees te werk en in die geloof te groei. Ons kan kies om bevry te word van al ons griewe oor 'n "verlore" jaar, om soos die Gees ons lei innoverend te dink en die res van 2020 proaktief gebruik om God se plan vir ons te ontdek, eerder as om tyd op kwellings en in wanhoop te vermors. Kom ons gryp die geleentheid aan om tred te hou met Jesus en Hom te vertrou om, terwyl hierdie beproewings ons versterk, soveel meer te gee as waarvoor ons kan vra of begeer.

Gebed: God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. (Hebreërs 13:20-21)