Louise Gevers

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.  Romeine 12:9-13

As kind het ek baie gehou van The Selfish Giant, 'n verhaal van bevryding. Die reus het 'n hoë muur om sy tuin gebou om mense uit te hou, maar deur die onskuld van kinders leer hy om vir ander om te gee en breek hy die muur af sodat hulle ook die tuin kan geniet. Wat my bekoor het, was die feit dat toe die reus opgehou het om selfsugtig te wees en die kinders toegelaat het om daar te speel, die toegesneeude wintertuin nuwe lewe gekry het.

Die reus ondervind dat lewe sonder liefde is soos 'n tuin sonder blomme en voëls. Die blomme, soos liefde, is die kolle vol kleur en eksotiese vorms wat die groen gras en struike van die lewe nog mooier laat vertoon en die voëls, deur hulle opgewekte gesing en gefladder, simboliseer die vreugde van die liefde. Die reus het baie jare sonder hierdie vreugdes gewees voordat hy besef het dat hy die krag het om sy leefstyl te verander. Dit was nie nodig vir hom om altyd in die winter te leef nie, want hy kon die muur afbreek.

Waar pas liefde in ons lewe in? God het die oorspronklike tuin in Eden geplant, en sy ontwerp het alles wat mooi is ingesluit. Adam en Eva se verblyf daar was egter weens die sondeval van korte duur. God het ook ons tuine geplant, en hoe hulle daar uitsien hang af van hoe ons lief het. Dit is ons wat ons tuine se prag laat floreer of dit vernietig.

Liefde is iets wat ons diep binne voel, maar dit word net 'n werklikheid wanneer dit tot aksie oorgaan. Wanneer ons aktief op alle vlakke vir mekaar omgee, sien God die uiterlike bewys van ons regverdigheid. Deur prakties dinge te doen, soos byvoorbeeld ons kos met diegene wat honger is te deel, skuiling te verskaf, klere te geea an die wat nie het nie, ons gesinne te versorg, regverdig te leef en die verdruktes te bevry (Jesaja 58:6-7), bewys ons liefde soos God ons liefhet, en sal ander die opregtheid in ons raaksien.

Wat Paulus ons oor die liefde leer is dat ons in nederigheid met ander moet saamleef want, "Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie …" (1 Korintiërs 13:4-8)

Wanneer dinge verkeerd loop, ontdek ons dikwels dat die liefde verwaarloos is, maar dit is nooit onherstelbaar nie, want "ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het." (1 Johannes 4:19). Ware liefde is dus in Hom geanker. Soos die reus, kan ons ook die mure wat ons gebou het afbreek, die winter verban en dan met hart en siel liefhê.

Hoe gaan dit met jou tuin?

Gebed: Vader, u liefde is ewig. Help ons om te besef dat, deur u genade, ons die kraghet om hoe ons liefhet en dit wat ons verkeerd gedoen het, te verander. Amen