Louise Gevers

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer? Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.  Matteus 18:21-22

Vergifnis begin by Jesus. Sy antwoord aan Petrus maak dit duidelik hoe belangrik dit is om te vergewe en dit vergelyk ook die menslike en goddelike begrip van hierdie kwaliteit met mekaar. Vir Petrus was dit grootmoedig om iemand sewe keer te vergewe, maar vir Jesus is vergifnis onbeperk. Dit het Hy bewys deur dat, alhoewel self sondeloos, Hy gewillig was om vir die mense wat vir sy lyding en dood verantwoordelik was te sterf, en sonder om iets teen hulle te hou te bid: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34)

Ons sukkel om iemand vir oppervlakkige dinge te vergeef, en hou dikwels hardkoppig vas aan relatiewe klein ongeregtighede. Diep binne, is ons nie juis beter as die persoon wat ons en ons trots seergemaak het nie. Maar waar kry ons 'n beter voorbeeld van liefde? As Jesus teësinnig vir ons gesterf het en 'n soortgelyke gees as die onboetvaardige dief aan die kruis geopenbaar het, was Hy maar net dieselfde as enigiemand anders. Hy het egter gewys dat liefde en vergifnis kom deur onbaatsugtigheid, iets wat Hy ook van sy volgelinge verwag.

Jesus stel aan ons die voorbeeld om te kies om te vergewe en vry van bitterheid en gebondenheid te wees. Corrie Ten Boom herinner ons dat: "Vergifnis is 'n daad van wil, en … kan, ongeag die temperatuur van die hart, funksioneer." Wanneer ons gehoorsaam is aan God gee Hy aan ons die genade om sy wil te doen. "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." (Filippense 4:13)

God se liefde herstel gebroke mense en situasies; soms werk Hy deur misterieuse omstandighede om dit te doen. Maar wanneer Hy ons vergewe, herstel Hy ons nie net soos 'n ou motor nie, pragtig opgeknap en herbou, maar in wese steeds 'n ou ding wat oorgedoen is. God herstel ons op 'n manier wat ons verander en ons volkome nuut maak. Sodanig is die krag van vergifnis.

God se vergifnis maak verlossende liefde in 'n mens se lewe moontlik. "Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos." (Jesaja 44:22) Leer van Hom en beoefen vergifnis daagliks, oorwin konflik en haatdraendheid en keer dat bitterheid wortel skiet. Om ander uit die hart te vergewe, soos die Here met ons doen, en dan aan te beweeg, bevry ons van haat, maak ons nederig en herstel liefde. Deur mekaar te vergewe, erken ons dat ons nie volmaak is nie en besef dat, soos ons, diegene wat ons seergemaak het ook feilbare mense is en, soos die Engelse gesegde lui, "there but for the grace of God go I".

"Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe." (Kolossense 3:13)

Gebed: Vader, ons benodig u onvoorwaardelike liefde en vergifnis, en dat U ons volkome nuut sal maak. Help ons om, soos U, grootmoedig te wees en om diegene wat ons benadeel te behandel met dieselfde deernis en begrip wat ons vir onsself verlang. Here Jesus, dankie vir u voorbeeld. Heilige Gees, dankie vir u krag. Amen