Louise Gevers

Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.  Rut 1:20

Tuiskoms, nadat 'n mens 'n lang tyd weg was, is so 'n vreugdevolle ondervinding. 'n Mens geniet jou bekende omgewing en hou daarvan om weer jou vriende op te soek en al jou ondervindings met hulle te deel. Alhoewel daar "met hulle aankoms in Betlehem groot opgewondenheid in die stad (was)," (Rut 1:19) het Naomi na 10 jaar in Moab teruggekeer na Betlehem, 'n hartseer en verbitterde vrou, baie bewus daarvan dat die Almagtige die lewe vir haar swaar gemaak het.

Sy het Betlehem verlaat met 'n man en twee seuns, maar al drie het in Moab gesterf, en sy het uiteindelik teruggekeer slegs met Rut, een van haar twee toegewyde skoondogters wat geweier het om haar te verlaat.

Bitterheid het in Naomi se lewe oorheers want van na die tragiese en pynlike verlies van haar man en seuns, kon sy nie ophou dink aan hoeveel God van haar weggeneem het nie. Sy het vir Rut gehad om na haar om te sien, sy het Betlehem, waar daar weer genoeg kos was, veilig bereik, maar in haar hartseer het sy skaars hierdie seëninge opgemerk. Maar die Here was deur dit alles by haar. Deur Rut en 'n familielid van Naomi se man, Elimelek, was Hy van plan om Naomi se lewe te verander.

In die mooiste liefdesverhaal met die hoogste integriteit kom Rut en Boas (Elimelek se familielid) bymekaar, hulle trou en God seën hulle met 'n seun. Naomi word dubbeld geseën, nie net ontvang sy die kosbare geskenk van 'n kleinseun nie, maar ook in die plek van haar geliefde seun, Maglon, 'n erfgenaam wat sy naam sou voortdra "sodat sy naam nie uit Israel uitsterf nie". (Deuteronomium 25:6) God neem haar hartseer en verdriet weg en vervang dit met groot blydskap.

Die Here het eintlik aan haar 'n derde seëning gegee, iets baie belangrik wat sy nie geweet het nie: haar kleinseun het die oupa van koning Dawid geword, en 'n voorvader van Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld. "Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. Haar buurvroue het die seuntjie toe 'n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore.” Obed was die voorvader van Dawid." (Rut 4:16-17)

Mense beleef moeilike tye op verskillende maniere, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag." (Jesaja 40:31) In hierdie tyd van 'n pandemie, met lyding en hartseer deur die wêreld heen wat geen familie onaangeraak laat nie, bring die vernuwing van die krag wat ons van God ontvang, hoop. "Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het." (Romeine 5:3-5)

God is die Een wat ons waarlik van ons probleme verlos "want God is liefde". (1 Johannes 4:8) Hy neem alles wat ons na Hom toe bring en op sy tyd werk Hy deur ons om dit te verander, soms op maniere wat ons nie verstaan nie. So bring Hy vir ons nuwe hoop en blydskap.

Gebed:  Genadige Vader, dankie dat U ons beproewinge in seëninge, krag en vreugde verander. Amen