Louise Gevers

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  Romeine 12:2

Om met ons honde te gaan stap, laat ons dikwels met gemengde gevoelens want ons ken elkeen se aard en die potensiaal vir drama op die pad. 'n Goeie stap hang gewoonlik af van hoe hulle reageer en hoe goed ons hulle kan beheer wanneer hulle deur ander honde gekonfronteer word, en nie soveel van die skoonheid van die natuur of hoe mooi die weer is nie. Vir ons is die lekkerste stap die kere wat ons vreedsaam saam kan stap, ons omgewing geniet en sonder enige insident huis toe kan gaan. Maar dit is nie hoe die lewe werklik is nie, ons moet die slegte met die goeie aanvaar.

Die verbinding tussen ons denke en die realiteit is verbreek en kan slegs verander word wanneer die hart, denke en wil in voeling met God is. Dit was Daniël se verhouding met God wat hom in staat gestel het om gebalanseerd en by sy volle verstand te leef terwyl hy Nebukadnesar en Darius in 'n vreemde land gedien, en ook 'n vreemde teken vir Belsasar verklaar het. Hierdie buitelandse konings het sy voorbeeldige kwaliteite hoog geag. Toe die koning se ministers en beamptes Daniël ondersoek het, kon hulle "geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie." ((Daniël 6:4) In ons wêreld is dit nie altyd maklik om iemand in diens te vind wie deur sy of haar voobeeldige kwaliteite God vereer nie.

Paulus verwys na die noodsaaklikheid om die denke te vernuwe en te verander. Dit verlang konstante aksie oor verloop van tyd. Dit is deur die denke wat die vyand ons aanval, vlei en bedrieg, die waarheid vals laat lyk en leuens aantreklik maak todat opstandige gedagtes oor geloof en weldeurdagte argumente en teorieë verwarring veroorsaak. In die Tuin van Eden vra die vyand vir Eva: “Het God werklik gesê … " (Genesis 3:1), vir Lot se vrou oortuig hy om om te kyk (Genesis 19:26) en vir jou en my sê hy dikwels: "Jy is te swak". Ons kan hom slegs oorwin as ons ons geloof in aksie stel en God se wil, dit "wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is" (Romeine 12:2) uitvoer.

God vernuwe ons denke en maak dit moontlik dat daar geen verbreking tussen ons denke en die realiteit is nie, dat ons die "sondige wêreld" duidelik kan herken, en dit stel ons in staat om in gehoorsaamheid, soos Daniël, God se wil, dit "wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is" te kies. Die tyd sal kom dat ons alles duideliker sal sien en verstaan, maar tot dan kan ons maar net in geloof en gehoorsaamheid leef.

Gebed: Here, U maak die swakkes sterk, U verander die hart, en as ons u Waarheid volg, kan U ons lewe verander. Gee aan ons die krag en inspirasie om 'n verskil in die wêreld te maak, U te aanbid en u Naam te verheerlik. Amen