Louise Gevers

Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. Daniël 2:20-22

Dit is miskien nie so vreemd vir gelowiges om soms, soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja, soos vreemdelinge in 'n vreemde land te voel nie. Waar hulle hulle ook al bevind, God se kinders is egter geroep om Hom te dien en eer tussen diegene wat dit nie doen nie. God is hulle eerste prioriteit. Dit is nie noodwendig 'n goeie resep vir 'n probleemvrye lewe nie, maar wanneer God in sy onfeilbare liefde bo alles geëer word, kan Hy vertrou word om sy kinders in alle omstandighede te help.

Hierdie jongmanne van Juda is deur Nebukadnesar in ballingskap weggevoer, Babelse name, Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego, gegee, met die opdrag om in die koninklike hof diens te doen. Daar kan gesê word dat hulle baie goed behandel is, die beste kos gekry het, en onderrig in 'n vreemde land moontlik was, maar daar moet ook erken word dat hulle geweldadig uit hulle land verwyder is en uiterlik van hulle identiteit en geloof ontneem is om die seëvierende koning te dien. Maar God was by hulle in elke situasie.

God het gegee dat die hoofpaleisbeampte simpatiek teenoor Daniël was en hy het die jongmanne vrygestel van die eet van die voedsel wat aan die Babelse afgode geoffer was. Hulle keuse om slegs groente te eet, het hulle in staat gestel om God te eer en hulle bande met hulle tuisland te versterk. Dit het hulle ook verseker dat God by hulle is. God het toe aan hulle "verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid" (Daniël 1:17) sodat toe hulle deur die koning uitgevra is, het hy bevind dat "hulle tien maal beter (was) as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk." (Daniël 1:20) Nie dat hierdie gunstige bevinding juis gehelp het toe hulle ter dood veroordeel is saam met Nebukadnesar se wyse manne wat nie aan sy onmoontlike eise kon voldoen nie.

Weer het God tot Daniël en sy vriende se redding gekom. Nebukadnesar het die doodstraf uitgestel om Daniël tyd te gee om hom te vertel wat hy gedroom het en dit vir hom uit te lê, en sodoende te voorkom dat hulle "aan stukke gekap word" en hulle "huise puinhope gemaak word." (Daniël 2:5) Voel ons nie ook soms dat ons feitlik onmoontlike uitdagings, soos die een wat Nebukadnesar gestel het, in die gesig staar nie? Dit is miskien nie noodwendig nuwe uitdagings nie, maar hulle is nou opvallender as gevolg van nuwe situasies wat deur die koronavirus veroorsaak is. Wees bemoedig! God is God.

Daniël stel vir ons die voorbeeld deur te alle tye in geloof te bid. Daniël het sy vriende, mede-Judeërs, "gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat (hy) en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie." (Daniël 2:18)

God het hulle gebed verhoor.

Gebed: Here, hoe magtig is U nie, ver bo enigiets wat ons ons kan voorstel. Dankie dat U ons liefhet en as ons in geloof tot U nader en in alle omstandighede op U vertrou, sal U u kinders red. Amen