Louise Gevers

Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Hebreërs 11:7

Terwyl ons deur die Karoo ry, raak ons bewus van 'n reënboog, eers net hier en daar 'n stukkie en baie flou, maar terwyl ons aanry en tot ons groot vreugde, word dit geleidelik langer en helderder. 'n Pragtige simbool van God se verbond met Noag wat ons daaraan herinner dat Hy nooit weer die hele aarde met 'n vloed sal vernietig nie.

God het Noag as regverdig geag, want in geloof het hy God gehoorsaam en 'n groot boot gebou, ondanks die feit dat hy hom bevind het op droeë land in 'n streek wat deur land omring is en waar niemand kon glo dat daar genoeg water sou wees vir 'n boot om te dryf nie. Noag se geloof was iets besonders.

"Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef." (Genesis 6:9) Omdat Noag voortdurend met God in gesprek was, het hy God geglo toe Hy gesê het dat Hy die aarde met al sy korrupte mense gaan vernietig. Noag het Hom gehoorsaam en geglo dat God se plan hom, sy gesin en al die diere en voëls van die aarde sou red totdat die vloed verby was.

Gehoorsaamheid en geloof gaan hand aan hand en dit lei tot God se guns. Hierdie guns van God het Noag en sy gesin gered.

Selfvoldaanheid kan die rede wees hoekom mense nie opdragte gehoorsaam nie, hulle weier soms omdat hulle onwillig is om saam te werk of omdat hulle verkies om dinge te doen soos dit hulle pas. Wanneer dit by geloof kom, verg dit moed om teen die stroom te gaan en wanneer almal teen jou is, alleen te staan vir dit waarin jy glo. In hierdie tyd van die geskiedenis moet ons dikwels, aangesien so baie mense nie ter wille van die algemene belang regulasies wil nakom nie, alleen staan vir geregtigheid.

Stel jou voor, God sê vir jou om 'n ark te bou en om aan boord te gaan,terwyl jou vriende daar staan en jou spot. Om die Here te gehoorsaam, sal 'n groot tree in die geloof verg, maar oorweeg jy al die implikasies sal die reënboog al hoe helderder skyn.

Regverdigheid en verlossing gaan hand aan hand. Noag en sy gesin is fisies, sowel as geestelik verlos en dit is moontlik vir almal wat naby God leef. Ons bou miskien nie 'n fisiese boot nie, maar elke tree wat ons in die geloof en gehoorsaam aan God gee, verseker ons toekoms in die ewigheid.

Sonder geloof is dit onmoontlik om God tevrede te stel want "wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon."

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorreg dat ons saam met U kan wandel, onberispelik, want deur Jesus Christus, ons Verlosser, is ons geregverdig. Help ons om die uitdagings wat U oor ons pad bring, te aanvaar en met blydskap die onbekende te betree omdat ons in U goedheid en liefde vir ons en en ons geliefdes, vertrou. Amen