Louise Gevers

Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry.  Filippense 3:7-8 (EBD)

As 'n persoon wat ook selfvoldaan was, kan die apostel Paulus enigiemand inspireer wat daarmee worstel. Voordat hy Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het, was hy 'n toegewyde Fariseër wat die nuwe Christene bymekaargemaak het en probeer het om die kerk te vernietig. Sy sterk godsdienstige oortuigings, selfvertroue wat hy deur sy studies verkry het saam met sy hoogmoedige trots op sy goeie stamboom, het hom verblind vir wie hy geword het. Hierdie sake kan ons ook affekteer. Maar op die regte tyd het Jesus hom ontmoet en sy dramatiese bekering het sy lewe radikaal verander.

Paulus beskryf aan die Filippense sy radikale verandering deur geloof in Jesus en hy beskou dit as die belangrikste gebeurtenis in sy lewe. Paulus se hart is volkome verander. Hy besef dat sy geloof in sy onberispelike erfenis, en sy onvermoeide ywer as 'n Fariseër, hom beroof het van die ware waardes wat werklik 'n verskil maak. Hy het selfs 'n punt bereik waar hy Stefanus se moord goedgekeur het (Handelinge 7:58). Deur die lig van Christus se integriteit en waarheid kon hy uiteindelik hierdie dinge sien vir wat hulle werklik is.

Regdeur die geskiedenis was die Israeliete dikwels selfvoldaan en het hulle vergeet wie hulle is en waar hulle hulp vandaan kom. Die Here het hulle gewaarsku en gesê: "en dat jy dan hoogmoedig word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het." (Deuteronomium 8:14)

Hierdie "Hebreër van alle Hebreërs" (Filippense 3:5) is van sy hoogmoed wat hom beperk het, bevry: vry van sy selfvoorsiening. Sy ontmoeting met Jesus het beteken dat van toe af hy Hom met liefde, vreugde en in nederigheid sou dien. "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus." (Filippense 3:13-14)

Kan ons minder as dit doen?

Gebed: Here Jesus, ek wil van my selfvoldaanheid en hoogmoed bevry word. Sal U my asseblief daarmee help en my lewe verander. Amen