Louise Gevers

Ons weet dat wanneer mense lief is vir God, dan is alles wat met hulle gebeur, goed vir hulle. God laat dit so gebeur, want Hy het lank gelede besluit om hulle te kies om aan Hom te behoort. … Ons weet dit nou alles. Ons weet dat God by ons is, daarom is ons vir niemand bang nie. … God is lief vir ons, daarom wen ons altyd wanneer al hierdie slegte dinge met ons gebeur.  Romeine 8:28,31,37 (Bybel vir Almal)

Hierdie geloofswoorde oor die goedheid wat God in alle omstandighede aan sy kinders bewys, is vertroostend en bemoedigend in hierdie moeilike dae waar ons voel dat ons van alle kante aangeval word. Wanneer Jesus sê: "Die mense van die wêreld sal julle laat swaarkry, maar julle moenie moedeloos word nie. Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Johannes 16:33), bring dit hoop en bemoediging aan gelowiges om Hom te vertrou want Hy beskik oor die finale gesag en daarom die krag om, ten spyte van ons omstandighede, ons te help. Ons het die keuse om Hom te glo en elke dag genade-oomblikke raak te sien, of nie.

Die oggend van 1 Mei het baie Suid-Afrikaners die vryheid van nuwe grendeltydregulasies benut, en waar hulle ookal kon vrolik na buite gestroom vir oefening tydens die gespesifiseerde tyd. Voorheen sou niemand hierdie beperkte vryheid as buitengewoon beskou het nie, maar in hierdie grendeltyd het almal wat kon dit met groot vreugde aangegryp.

Dit was egter nie die geval met ons honde nie. Daisy en Lily het nie uitbundig gereageer toe ons in die straat uitstap instede van om met die grendeltyd se 'normaal' van 20 rondtes om die huis in ons eie tuin, te begin nie. Vir ons was dit 'n vreugde van heuwels, sonsopkoms en om mede-stappers te groet, terwyl vir hulle dit net nog 'n vroegoggend stap was wat territoriale verwarring en stres meegebring het want daar was so baie ander honde op 'hulle' roete. Hulle het geen waardering gehad vir hoe vol genade hierdie vergunning vir ons was nie. Hulle was steeds aan hulle leibande en het hulle ou ingesteldheid met hulle saamgeneem.

Ongelukkig is dit soms ook die geval met ons.

Ons kan kies om beperk te word deur vrees, ou gevoelens, trots, verknogtheid aan gemak en rituele, angs en verwarring, of ons kan doelbewus besluit om 'n tree in geloof te gee en te vertrou dat Jesus sy belofte sal hou wanneer Hy sê "Ek is altyd by julle, tot die einde van die wêreld.” (Matteus 28:20). Hy sal ons nooit in ons uur van nood verlaat nie.

Die koronavirus het die wêreld verander. Dit laat ons ingeperk en weerloos voel, maar dit gee ook aan ons die geleentheid om ons waardes te herbesoek en ons ingesteldheid in die lig van ons geloof te hersien. Niemand is onaangeraak deur die virus en sy gevolge nie. Dit ontneem ons van 'n 'normale' lewe en sosiale aktiwiteite en ons verlang na ware gemeenskap en die saamwees met familie, maar ons kan egter kies om geloof in God te hê en deur sy genade in hierdie veranderde tye onsself in Hom te herontdek. Rig jou oë op Hom alleen.

Gebed: Here Jesus, verander asseblief my ingesteldheid en help my om in in die geloof te groei. Help my om te glo dat U alles, ook in hierdie tyd in die geskiedenis, ten goede laat meewerk. Amen