Louise Gevers

Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Lukas 10:42

Terwyl ek besig was om 'n botterskorsie te skil vir ons grendeltyd braai vir twee, het ek begin nadink oor hoe Marta moes gevoel het terwyl sy besig was om so baie kos vir Jesus se besoek voor te berei. Behalwe tyd en energie, het dit haar seker baie gekos om haar huis vir Jesus en sy dissipels oop te stel. Sy het seker haar hart daarop gesit om 'n weelderige maaltyd voor te berei vir so 'n belangrike persoon soos Jesus. Baie van ons onthou seker maaltye wat ons oor die jare vir belangrike persone in ons lewe voorberei het.

En tog was daar 'n probleem. Ten spyte van haar gewilligheid om Jesus op hierdie manier te dien, vertel Lukas ons dat Marta baie bedrywig (was) om alles klaar te maak.(v 40) Sy het so 'n bietjie fokus verloor en het toegelaat dat wrewel en selfbejammering oorneem. Sy was woedend omdat Maria haar verlaat het om aan Jesus se voete te sit, terwyl hulle saam die werk gouer kon afhandel wat hulle tyd sou gee om later na Jesus te luister.

Miskien het Marta diep binne in haar besef dat sy uitmis op die belangrike geleentheid om by Jesus te wees en in haar eie huis na sy ewige en wyse woorde te luister. Sy was oorlaai met werk in die kombuis en het heel moontlik begin om spyt te voel oor haar besluit. Wanneer ons selfbehep is, sien ons nie altyd dinge helder en duidelik nie en vind dit moeilik om met ons verkeerde besluite te deel. Die Here gebruik egter ons foute om ons te leer, ons nuut te maak en in ons geloof te laat groei.

Marta het nie verwag dat Jesus haar sou berispe toe sy by Hom gekla het oor Maria se onwilligheid om haar te help en by Hom aangedring het om Maria te bersipe nie. Maar toe Jesus Maria geprys het vir haar goeie keuse om eerder aan sy voete te sit en na Hom te luister, het Marta geleer dat die keuse om tyd te gebruik om by Jesus te wees, is net so belangrik vir die siel as wat tyd in die kombuis is om voedsel vir die liggaam voor te berei. Maria het haar behoefte herken en het gekies om dit wat vir haar beter was te doen en "dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Watter vrede en blydskap ervaar ons nie wanneer ons ons tyd met Jesus 'n prioriteit maak en ons sy goedkeuring voel wanneer ons die regte keuse maak met die besteding van ons tyd nie. Daardie dag het Marta iets van prioriteite geleer en dat alle keuses gevolge het. Wat reg was vir haar, was nie noodwendig reg vir Maria nie, maar elkeen het die reg gehad om tyd met Jesus te spandeer en sou wysheid ontvang om die regte keuses te maak.

“Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, … (1 Samuel 15:22)

Gebed: Here Jesus, help my om kalm te wees en inspireer my om die regte besluite te neem wat volg op die tyd wat ek met U spandeer. Skenk my vrede. Amen