Louise Gevers

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is; so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. Jeremia 17:7-8

Winter is 'n vreugde in die Wes-Kaap, want feitlik oornag verander die reëns na die warm somer die dorre, bruin plantegroei in welige groen. Regdeur die jaar is daar egter altyd sommige bome en struike wat groen bly, selfs gedurende die droogte. Hierdie plante laat my dink aan die boom wat in vandag se teks beskryf word, 'n boom wie se blare altyd groen bly want sy wortels word gevoed uit die waterbron waar dit geplant is.

Die Bybel praat met ons oor al die seisoene van ons lewe. Die mens "wat sy vertroue in die Here stel, vir wie die Here 'n veilige vesting is", se krag kom van Jesus, die Bron van lewende water (Johannes 4:10) wat nooit uitgeput sal raak nie, want Hy is die ewige Woord. Hy was altyd daar want "in die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God." (Johannes 1:1) Diegene wat hulle wortels toelaat om diep in Hom geanker te wees, sal genoeg water ontvang en lewendig wees – al ontsnap hulle nie noodwendig, soos byvoorbeeld in hierdie grendeltyd, aan alle probleme nie – hulle ontvang krag en hoop en sal steeds in alle seisoene vrug dra in dit wat belangrik is in die koninkryk van God.

Die gereelde, aandagtige lees van die Bybel maak ons bekend met die stem van God, en soos dit God se interaksie met die mens vir ons ontsluit, word dit die sleutel tot die verskaffing van antwoorde wat ook op ons betrekking het. Paulus beveel Gods Woord aan vir Timoteus want, "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." (2 Timoteus 3:16-17)

Dit is noodsaaklik dat ons leer om na God te luister en, weer eens, is tyd en getrouheid belangrike bestandele om dit te fasiliteer. Ons kom in geloof na die Here wat onsigbaar is en praat met Hom vol vertroue dat Hy ons sal hoor in watter taal ons ook al met Hom praat. Ons is egter nie altyd so seker dat ons Hom sal hoor wanneer Hy met ons praat nie.

En tog, hoe meer tyd ons aan die lees van die Bybel bestee, hoe meer ontvanklik sal ons word vir die waarheid wat daarin voorkom en vir die krag van die Heilige Gees om ons met wysheid toe te rus. Ons sal 'n beter begrip van God kry en meer bewus word van sy "stem" in ons lewe. Die boodskap van die Bybel bring vrede in donker tye, en moed, selfs in die hitte van die droogte, as ons aan sy Woord vashou. Die krag van sy beloftes onderhou ons.

Praat die Bybel met jou?

Gebed: Here Jesus, Lewende Woord, U is die Bron van lewe, die Een wat ons deur elke beproewing onderhou. Van U alleen kry ons krag en bemoediging. Gee dat ons alles sal hoor wat U in die Bybel vir ons sê en gee dat die tyd wat ons met U spandeer ons lewens sal verryk. Amen