Louise Gevers

Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid.  Markus 1:35

Tyd en getrouheid is belangrike elemente in die ontwikkeling van 'n gesonde verhouding met die Here, en is die sleutel tot ons interaksie met Hom en ook hoe ons sy integriteit elke dag weerspieël. Wanneer ons ons tyd hoofsaaklik aan ander sake bestee, skep ons struikelblokke wat ons energie tap en ons verhinder om daagliks tyd in gebed en oordenking met die Here deur te bring. Ons laat soms onwetend afleidings en ander oorsake toe om die gesag en waardes van die Here op 'n subtiele manier as die hoogste prioriteit in ons lewe te vervang, en ons begin om Hom en sy wet van liefde te ignoreer.

Belangrike verhoudings word onderhou deur met hart en siel tyd en energie daaraan te bestee. Dit is dus belangrik om elke dag betekenisvolle tyd met die Here te spandeer, voordat ander eise aan ons gestel word wat inbreuk op ons tyd en energie maak. Dinamiese tyd met die Here verryk ons kennis oor Hom en verdiep ons vertroue in Hom. Wanneer ons elke dag ons behoeftes erken, en getrou ons "allereers (beywer) vir die koninkryk van God en vir die wil van God ", sal sy Gees ons inspireer en ons gees beïnvloed, en ons krag gee om dieper in die geloof te groei en om sy waardes uit te leef. Verder lees ons "dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." (Matteus 6:33)

Jesus gee die grootste bewys moontlik dat dit vir ons nodig is om ons tyd te prioritiseer ten einde elke dag hernieu te word en krag vir die dag te ontvang en Hy stel die beste voorbeeld hoe om dit te doen. Alhoewel Hy God is, het Jesus nodig gehad om tyd met sy Vader te spandeer, voor en na 'n lang dag waar Hy die mense geleer en van Homself gegee het – of dit nou was om vroeg môre op te staan om alleen in 'n eensame plek tyd met Hom te spandeer en of Hy "uitgegaan (het) na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. (Lukas 6:12) Lukas skryf dat Jesus "het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid." (Lukas 5:16)

Elke nuwe dag is 'n geskenk om ons eie te maak. Ons mag beplan om dit wys en goed te gebruik, maar ons kan nie die uitkoms voorspel nie. Tog as ons elke dag met God in gebed begin, begin ons goed. Ons sal vind dat Hy vir ons wag, gereed om te luister, gereed om ons vermoeidheid en sorge op Hom te neem, gereed om ons te bemoedig en krag te gee vir die nuwe dag. Ons rus in sy teenwoordigheid en ondervind weer dat daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. (Klaagliedere 3:22-23)

Hoeveel tyd spandeer jy met die Here?

Gebed: Liefdevolle Hemelse Vader, vergewe asseblief ons ongelowige gebruik van tyd. Hernieu ons begrip daarvan sodat ons in u liefde kan groei en krag ontvang om elke dag tot u eer te leef. Amen