Louise Gevers

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide. Psalm 107:1-3

Verloste mense getuig dikwels van hoe God op 'n wonderlike manier beproewing en swaarkry in hulle lewens gebruik het om hulle te verander, hulle harte bevry het en hulle denke nuut gemaak het. Alhoewel niemand moeilike tye verwelkom nie, is dit dikwels in sulke tye dat ons meer bewus word van God se teenwoordigheid en ons in die geloof groei as ons Hom deur al ons beproewinge vertrou.

Toe Moses die Israeliete uit gevangenskap in Egipte gelei het, het God hulle in die woestyn laat beland om hulle aandag te kry en om, as hulle God, 'n verhouding met hulle te ontwikkel. God was altyd by die Israeliete, sigbaar as 'n wolkkolom bedags en snags as 'n vuurkolom. (Eksodus 13:21) Hy het hulle in die woestyn van lig, vleis en brood voorsien en bitter water drinkbaar en soet gemaak. (Eksodus 15:25) In later jare is hulle verban, maar elke keer het die gelowiges huis toe gekom en hulle in sy goedheid verbly, sterker van gees deur die swaarkry wat hulle beleef het. God doen vandag niks minder vir sy kinders nie.

Die grendeltydperk wat ons tans beleef, is nie altyd maklik nie, selfs in ons eie huise. Ons voel dalk of ons in 'n woestyn is, verban van die 'normale lewe' weens die beperking van die vryheid van beweging en van ons daaglikse aktiwiteite, en dit versteur ons welsyn. En tog in hierdie 'gevangenskap' ontdek ons dat die Here, wat nooit ingeperk is nie, altyd by ons is en vir ons nuwe krag gee. Hy maak ons gees en denke vry – selfs al weet ons nie wat elke dag inhou nie.

God het sy volk baie keer van hulle vyande verlos, en hulle veilig huis toe gebring; Hy gee egter ook aan ons nuwe krag en nie net aan die Israeliete van ouds nie. Wanneer ons Hom dank en Hom loof vir sy goedheid, het ons ook 'n storie om te vertel en waardeur iemand anders seën kan ontvang. Sy goedheid is fundamenteel tot die lewe. Ons hoop groei en ons welsyn verbeter wanneer ons elke donker oomblik benader deur aan die volgende waarheid vas te hou: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Hierdie psalm herinner ons dat waar ons ook al mag wees, daar is God. Hy is die Allerhoogste. Hy kan ons van die vyand verlos – of ons nou in 'n 'woestyn' of in 'n 'selfgemaakte gevangenis' is, of ons rebelleer, in 'n fisiese of geestelike storm is, in armoede verkeer, onderdruk word of hartseer is. Is dit jou ondervinding?

Laat ons Hom daarvoor dank!

Gebed: Hemelse Vader, in donker tye verlig u goedheid en u ewige liefde ons lewens en dit verander, vertroos en bevry ons. Ons dank U daarvoor. Amen