Ben Fourie

“Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees. Toe sê Abram: ‘Here my God, wat kan U my gee? Ek sal kinderloos sterf…’ ” Genesis 15:2

Adonai – Jahwe, Here my God. ’n Groter Naam kan Abram nie gebruik nie. Adonai was die naam wat die Israeliete verkieslik gebruik het om nie die naam Jahwe te sê nie. Vroeër die maand het ons in een van die dagstukkies daarna verwys. In hierdie teksvers gebruik Abram egter beide Adonai en Jahwe. Abram weet nie waar hy met God staan nie. God het ’n belofte aan hom gemaak dat hy vader van ’n groot nasie sou word, maar die belofte is leeg sonder ’n nageslag en Abram is oud en steeds kinderloos. Menslik gesproke kan hy en Sara nie meer kinders hê nie. Moedeloos roep hy die allerheiligste Naam van God aan, maar Abram het iets van God nog nie geweet nie. Hy ken die groot Naam, maar moet nog leer waartoe die Een agter die naam in staat is.

Gedurende die inperking stuur iemand op WhatsApp ’n video greep waar die sangeres Lynda Randle die lied “God on the mountain” sing. U kan dit gerus hier https://www.youtube.com/watch?v=RCTl4tUYI op YouTube gaan kyk. Ek haal graag ’n deel daarvan in die oorspronklike Engels aan: “Life is easy, when you’re  up on the mountain and you got peace of mind, like you’ve never known, but things change when down in the valley. Don’t lose faith for you’re never alone, for the God of the mountain is still God of the valley, when things go wrong, He’ll make them right. And the God of the good times is still God in the bad times, God of the day is still God in the night.”  

Abram en ons moet elke dag opnuut leer wie God werklik is en waartoe Hy in staat is. Adonai word ook vertaal met Meester. Hy is inderdaad Meester oor ons hele lewe, wanneer dit met ons goed gaan, maar ook daar onder in die dieptes waar ons so maklik dink dat God Sy beloftes vergeet het.

Gebed: Ek dank U uit die diepste van my hart dat ek U die afgelope maand weer as “God by my” ervaar het. Amen