Ben Fourie

“…dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Eksodus 15:26b

Wat ’n belofte! Doen net wat ek sê en julle sal nooit siek word nie. Van alle geskenke wat ’n mens ooit kan ontvang, is goeie gesondheid die heel grootste. Daarsonder kan selfs die rykste mense in die wêreld nie hulle geld geniet nie en die beste sportlui nie rekords verbeter en wedstryde wen nie. Ons almal begeer goeie gesondheid en ons hele ingesteldheid teenoor die lewe hang dikwels af van ons gesondheid.

Uit ondervinding weet ons dat permanente gesondheid ongelukkig nie is wat God hier bedoel nie. Ons ervaar die feit nou weer op ’n hoë vlak met die koronavirus. Niemand kan sê dat hy of sy nie deur die virus aangetas sal word nie. Ek het al gehoor en gelees mense sê hulle is nie bang vir die virus nie. Dit is elkeen se reg om so dapper te wees, maar laat ek maar ruiterlik erken, ek is bang vir die virus, net soos ek bang is vir kanker en hartprobleme. El Rapphai, God wat gesond hou, beloof immers nie dat ek nooit sal siek word of selfs aan ’n siekte kan doodgaan nie.

Wat beloof God dan hier in sy Woord? Hy beloof hier aan die Israeliete dat Hy hulle anders as die mense van Egipte sal behandel deur elke dag na hulle om te sien. Ek was al in my lewe ’n slag ernstig siek, het verskeie operasies gehad en ons as gesin het, en gaan steeds deur diep waters met die dood van ons skoonseun op jong ouderdom. Deur dit alles heen het ons ook ervaar dat God ons “anders” behandel deur ons “gesond” te hou. Hierdie soort gesondheid beteken nie om nie fisies of emosioneel seer te hê nie, maar wel om God se teenwoordigheid elke tree van die seer pad te ervaar.

Gebed: Dankie, dat ons kan weet dat U selfs die moeilikste pad vir ons begaanbaar maak. Amen