Ben Fourie

“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is ’n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.” 1 Samuel 2:3

El De ‘ot is die God wat alles weet of soos Hanna dit so mooi sê: “Die Here is ’n God van diepe kennis.” Hanna van hoofstuk 1 vers 9 en Hanna van ons teksvers is wêrelde uitmekaar. In vers 9 lees ons: “Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil”. Hanna het van die grootste hartseer beleef wat ’n mens kan tref. Sy was kinderloos in ’n tyd waar haar “waarde” dikwels afgehang het van of sy vir haar man ’n nageslag kon gee of nie. Sy was gelukkig in die opsig dat haar man Elkana lief was vir haar en haar nie verstoot het omdat sy kinderloos was nie, maar sy het hartseer gebly omdat sy baie graag ’n seun wou hê. Na ’n gelofte aan die Here word haar grootste wens vervul en sy gee geboorte aan Samuel, ’n kind wat ’n groot figuur in die geskiedenis van Israel sou word.

In hoofstuk twee is die trane iets van die verlede en sing sy ’n loflied met ’n ryke inhoud. Baie moontlik was ’n deel van die loflied ’n uittreksel uit ’n bekende psalm van daardie tyd. In die loflied prys sy die Here vir sy heiligheid, vir die feit dat daar geen rots soos Hy is nie, asook dat Hy die nederiges in die samelewing ’n plek gee en na die armes omsien. Hierdie dinge wat sy noem word elders in die Bybel ook besing, maar in vers 3 bring Hanna ’n unieke eienskap van God na vore. Hy het ook kennis soos niemand anders nie. Hanna het eerstehands ervaar dat God kennis het van haar diepste hartseer, maar ook haar grootste vreugde en wanneer Samuel gebore word roep sy in blydskap en dankbaarheid: “Sy naam is Samuel”. Die presiese betekenis van die naam is nie duidelik nie maar as ons die naam opbreek in Samu El is dit iets soos; God het gehoor of van God af gekry.

Ons vergeet so dikwels dat God beter as enigiemand anders ons diepste vrese ken, ons grootste verlangens, maar ook ons grootste blydskap.

Gebed: Baie dankie o Here, dat U my beter ken as wat ek myself ken. Saam met die psalmdigter sê ek dankie dat U my beskerm het nog voor ek in die wêreld gekom het, want U het my toe reeds geken. Amen