Ben Fourie

“Gideon het net daar ’n altaar gebou en dit genoem: ‘Die Here gee rus!’ Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete.” Rigters 6:24

Die enigste Hebreeuse woord wat die meeste van ons ken is die woord shalom. Ons sê soms vir mekaar shalom – vrede vir jou en bedoel dit dan as groet met goeie wense vir die pad vorentoe. Shalom is egter baie meer as net ’n groet van vrede. Die woord kom baie dikwels in die Bybel voor en word in verskillende kontekste gebruik. Interessant genoeg kom die woord Jahwe-Shalom – Die Here is rus of vrede, egter net die een keer voor soos in bogenoemde aanhaling uit Rigters.

Die Engel van die Here verskyn aan Gideon en hy word geroep om as Rigter op te tree en die Midianiete wat groot verwoesting in Israel gesaai het, die stryd aan te sê. Gideon herken nie die Engel van die Here nie. Hy vra die vraag wat mense vandag nog vra in vers 13: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie’. Nou het die Here ons in die steek gelaat”. Die Here, want dit is wie die Engel is, probeer nie ’n antwoord gee op Gideon se vraag nie, maar gee hom die opdrag om self iets aan die situasie te gaan doen. In die uitvoer van die opdrag sou Gideon egter nie alleen wees nie, want in vers 16 sê die Here: “Ek is met jou”.

Dan bring Gideon die offerande op die rots en dit word deur vuur uit die rots verteer. Nou eers herken Gideon die Engel as God self en hy vrees dat hy gaan sterf. Maar die Here sê: “shalom “… wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”

Gideon bou dan die altaar met die naam “God gee rus en vrede” bedoelende dat hy nie meer hoef te vrees dat hy sal sterf nie en ook nie meer te vrees vir die mag van die Midianiete nie. Wanneer God ook vir ons vrede belowe is dit nie noodwendig die afwesigheid van stryd nie, maar eerder dat Hy in ons daaglikse stryd vir ons rustig sal maak en deur sy teenwoordigheid die vermoë sal gee om te oorwin.

Gebed: Ons bely voor U dat ons ook soos Gideon dikwels voel ons is bevrees en onrustig, ons voel ook dat ons in die steek gelaat is. Baie dankie dat U ons nooit in die steek laat nie en ons rus en vrede in U kan hê. Amen