Ben Fourie

“Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.” Jona 4:2

In my kinderdae het predikers nogal graag klem gelê op God wat gereed staan om elke sonde klein en groot te straf en ja, ’n mens hoor dit vandag nog. Ek het selfs in die afgelope tyd gelees dat sommige mense Covid-19 sien as God se straf op die mensdom se sondes. As daar mense was wat regtig erge straf verdien het, was dit seker die van die stad Nineve. Die stad was geleë in Assirië en was volgens geskiedenisbronne op ’n stadium waarskynlik die grootste stad ter wêreld en ook die plek waar die godin Ishtar se kultus ontstaan het.

In die boek Jona lees ons ook dat dit ’n baie groot stad was. Dit het ’n mens drie dae te voet geneem om daar deur te stap. En hulle was sleg. Dit is wat God sê wanneer hy vir Jona opdrag gee om vir hulle te gaan preek. Jona se preek het dan ook daaruit bestaan om vir hulle te sê: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes.” Jona se boodskap is een van baie straf en min genade.

Die profesie word egter nie bewaarheid nie, want die Bybel vertel vir ons dat die mense van Nineve geluister het en toe in God geglo het, ’n vasdag uitgeroep het en gerou het oor die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. In hoofstuk 3 vers 10 lees ons “Toe God sien wat hulle doen en hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring”.

El Channon, die genadige en barmhartige God van wie Jona self sê: “U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.” Dit is en bly die boodskap van die boek Jona. God is genadig en wil, soos die Nuwe Testament sê, dat almal gered sal word. Dit is tog die groot boodskap van die hele Bybel. God sit nie met arendsoë en kyk waar hy iemand op een of ander sonde kan uitvang en straf nie. Hy kyk met liefdevolle vaderoë na waar hy kan red en vergewe.

Gebed: Baie dankie dat ons U ken as ’n liefdevolle Vader.  Amen