Ben Fourie

“Hagar het toe die Naam van die Here wat met haar gepraat het, aangeroep en gesê: U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.“ Genesis 16:13

In PG du Plessis se drama "Siener in die Suburbs" sê die siener se suster Tiemie: “Ek wil van geweet wees.” Sy was moeg van die lewe in die suburbs, die armoede en om niemand spesiaal te wees nie, deur niemand raakgesien te word nie. ’n Hartseerstorie, want ons wil almal graag iewers of vir iemand spesiaal wees.

Ook Hagar se verhaal is van iemand wat nie van geweet is nie. Sy was ’n Egiptiese meisie wat ver van haar eie land as slavin in diens van Sarai was. Toe Sarai onvrugbaar blyk te wees, is Hagar volgens die gebruik van die tyd as vrou aan Abraham gegee of sy hom wou hê of te nie. Toe sy swanger word, het sy op Sarai neergesien en die het haar daarna so sleg behandel dat sy weggeloop het, maar tog gaan sy op bevel van die Engel weer terug om Sarai te dien om op die ou end met kind en al deur haar man weggestuur te word, die woestyn in.

Tog het Hagar iets gehad wat niemand ooit van haar kon wegneem nie. Gedurende die eerste woestynverblyf word sy bewus van El Roï, die God wat jou raaksien. By die fontein of put naby Sur praat die Engel van die Here (dit is eintlik God self) met haar en maak die belofte dat ook haar ongebore kind ’n belangrike man en voorvader van ’n magtige volk sou word. Hagar sou nooit weer anoniem wees nie, die wêreld sou van haar weet, maar boweal het sy nou besef dat God van haar weet. Daarom sê sy ook: “…hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” Dit is ’n moeilik vertaalbare deel, maar beteken min of meer dat sy God nou eerstehands ervaar het.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat ongeag wie ek is, waar ek woon, wat my status is of hoe groot of klein my bankrekening is, God sien my raak, Hy weet van my.

Gebed: Baie dankie dat al is ek nie beroemd of selfs bekend nie, U my waarlik ken. Amen