Ben Fourie

“Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees en sy naam moet van vandag af wees: Die Here is daar.” Esegiël 48:35

Met hierdie dramaties woorde eindig die boek Esegiël. Jahwe Shammah, die Here is daar. Die afgelope paar maande was daar op sosiale media talle videosnitte, stemposinsetsels en sommer net mooi foto’s en prentjies met predikers, sangers en ander wat boodskappe van hoop in hierdie donker tyd uitstuur. ’n Mens is dankbaar vir soveel geloof. Ongelukkig was daar ook stemme wat die ou vraag vra; waar is God in hierdie tyd? Die vraag vra ’n antwoord van elke gelowige, nie net teenoor die wêreld nie, maar ook teenoor onsself.

Esegiël tree op in die tyd voor en tydens die ballingskap. ’n Groot deel van God se volk was in ballingskap ver van hulle land af en die wat in Juda agtergebly het, was in haglike omstandighede. Jerusalem was vernietig, sy beskermende mure afgebreek en boweal was die tempel tot op die grond afgebreek. Al hulle sekerhede was tot niet.

Vir die gelowige Jood was Jerusalem en die tempel sentraal in hulle menswees. Dit was hulle sekuriteit. Nou is daar niks. Daarom het hulle ook gevra waar is God. Die profeet bring die antwoord. God is reeds daar en besig om alles in plek te sit sodat sy volk vanuit die ballingskap kan terugkeer na hulle land en hulle stad. Die tempel sal weer herrys, offers sal weer gebring word, alles sal weer normaal wees, want God sal self teenwoordig wees.

Ons is ook ontsettend kwesbaar as ons beskermende mure skielik verdwyn, of dit nou terminale siekte, werksverlies, oorlog, egskeiding, dood van ’n geliefde, finansiële verlies of koronavirus is, maak nie saak nie. Dit waaroor ek nie beheer het nie maak my bang en vang my vas in die woestyn van ballingskap. Dan is dit juis die tyd wat ons as gelowiges moet vashou aan die begrip wat oral in die Bybel voorkom, maar so goed deur Esegiël verwoord word: Die Here is hier.

Gebed: Here, ek moet ook erken dat dit wat ek so dikwels as sekuriteit sien niks meer as ’n hand vol sand is nie. Baie dankie dat die sekuriteit wat U my bied ewig is, want U is self my grootste sekuriteit. Amen